Friday, February 3, 2023

Besproeiingsboere trek saam oor kragkrisis

Share This Post

Estimated reading time: 4 minutes

Besproeiingsboere in die Noord-Kaap staar ʼn ernstige krisis in die gesig. Die mielie-aanplantings is op die lande en op hierdie stadium is dit in ’n kritieke groeistadium met die plante wat baie water benodig om te oorleef. Produsente het ’n ernstige probleem met Eskom se beurtkrag wat hulle verhoed om water vir besproeiing te pomp.

’n Groep Noord-Kaapse besproeiingsboere het onlangs bymekaargekom en saam gesels oor moontlike oplossings. Hulle het gou agtergekom dat dit geen nut gaan hê om hof toe te gaan met Eskom nie, omdat dit nie hul mielie-oeste gaan red nie. Dit sal beter wees om ʼn bewusmakingsveldtog te loods in ’n poging om die regering ook bewus te maak van die probleem. As dié besproeiingsboere ’n misoes gaan hê, gaan dit miljoene rande kos en voedselpryse gaan die hoogte in skiet.

’n Mielie-misoes gaan die landbou, die voedselsektor en talle ander sekondêre bedrywe etlike miljoene rande kos, iets wat veral die klein dorpies langs die Oranje- en Vaalriviere nie kan bekostig nie.

Die projek is op Vrydag, 20 Januarie van stapel gestuur en vreedsame optogte is in verskeie dorpe in die Noord-Kaap gehou.

Lees meer oor die affek van beurtkrag op besproeiing hier.

Misoes kan landboudorpies knak

Een van die organiseerders was Kurt Loots van Prieska. Hy sê so ’n misoes kan ’n dorpie soos Prieska ’n hewige knou toedien. Landbou is die dorp se hoofbron van inkomste en terwyl veeboere vir etlike jare in ’n knellende droogte gewikkel was en nou in die proses is om hul kuddes op te bou, was dit die besproeiingsboere wat die dorp aan die gang gehou het.

Vanjaar word nie net die besproeiingsboere bedreig nie, maar dit is hele gemeenskappe wat aan die kortste end trek as gevolg van Eskom se beurtkrag.

Kurt sê hulle verstaan dat Eskom nie anders kan as om beurtkrag toe te pas nie, maar versoek dat hierdie beurtkrag só geskeduleer word, dat dit produsente kan help om hul oeste te onderhou sodat dit oor ’n paar weke van die lande afgehaal kan word. Hy voeg by dat produsente al vir baie jare beurtkrag toepas met die gebruik van Ruraflex-tariewe.

Hulle het jare gelede ’n ooreenkoms met Eskom aangegaan waarvolgens hulle in piektye duurder betaal vir elektrisiteit en in rustiger tye minder betaal. Op dié manier het produsente daarop teruggehou om op groot skaal elektrisiteit gedurende piektye te gebruik. Met die Fase 6-beurtkrag en hittegolwe van die afgelope twee weke, was hulle egter verplig om voltyds water te pomp wanneer elektrisiteit beskikbaar is.

Die boere se versoek is dus nie ‘n onmoontlike een nie, maar bloot dat Eskom hul kant van die saak ook moet insien en hulle help om die oeste te red.

Hy sê agter die skerms word ook baie gedoen om die situasie te probeer red. Agri SA het op 17 Januarie ’n vergadering met die regering gehou en praktiese voorstelle ter tafel gelê met die versoek dat Eskom, Nersa en die regering dit moet prioritiseer. Die voorstelle was soos volg:

  • Buigsame beurtkragskedules. Landbouers in sekere gebiede is bereid om gedurende die maande van April, Mei, Junie 2023 hoër vlakke van beurtkrag te aanvaar op voorwaarde dat voldoende elektrisiteit beskikbaar is in die kritieke besproeiingsmaande tussen Januarie en April 2023.
  • ’n Alternatiewe tariefstruktuur vir die huidige Ruraflex-tarief om te verseker dat boere nie onregverdig belas word met die betaling van hoër elektrisiteitstariewe wanneer hulle tydens spitstye besproei nie. Tans kos die winter-piektarief R4 per eenheid méér weens die boetefaktor wat by die tarief ingesluit is.
  • Om meer hernubare elektrisiteitsopwekkingstelsels tot die netwerk toe te laat sodat surplus-energie terug in Eskom se netwerk gevoer kan word. Dit moet gepaard gaan met bepalings om terugkooptariewe te finaliseer.

Besproeiing speel ’n belangrike rol om te verseker dat die land mildelik voorsien kan word van vrugte, groente, graan, pluimvee, melk, vleis en baie ander landbouprodukte. As hierdie krisis nie in die oë gekyk word en dringende oplossings gevind word nie, kan dit reuse-prysstygings en voedsel-inflasie tot gevolg hê. Dit is iets wat die Suid-Afrikaanse ekonomie en die verbruiker beslis nié kan bekostig nie. – Koos du Pisanie, AgriOrbit

Related Posts

Weeklikse plaashek-rooivleispryse / Weekly farm gate red meat prices

Estimated reading time: 6 minutes Die jongste vleispryse word...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a...

Hydroponic feed for intensive sheep production

Academics around the world tend to reject hydroponic feed...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not...

Ivermektien: Veilig vir dier én mens?

Estimated reading time: 4 minutes Die potensiaal van ivermektien...

Ankole embryos sell for record price in South Africa

The South African record price for embryos sold was...