Monday, August 15, 2022

Bespreek nóú: Leer hoe om roofdiere te bestuur

Estimated reading time: 3 minutes

Die Cape Leopard Trust, in samewerking met kenners van die Herding Academy en CapeNature, gaan binnekort werkswinkels aanbied wat holistiese grondbestuur en volhoubare boerdery in harmonie met roofdiere verken. Die drie voldag-werkswinkels sal poog om roofdier-konflikverligting, asook boerderybestuursmetodes en -praktyke wat die natuur beskerm, boere bevoordeel en voedselsekuriteit verhoog, oor te dra en aan te moedig.

Waarom is hierdie werkswinkels nodig?

Die luiperd is die laaste groot roofdier en laaste lid van die Groot Vyf wat nog vrylewend in die Wes-Kaap voorkom. Hoewel luiperds dit verkies om natuurlike prooi te vreet, kan hul per geleentheid opportunisties jagmaak op lewendehawe, en so beduidende ekonomiese skade aanrig.

Om saam met roofdiere, droogtes en uiterste weerstoestande te boer, is van die vele uitdagings wat boere moet trotseer. Die Boer Saam met die Natuur-werkswinkels demonstreer nie net aan kommersiële boere dat dit moontlik is om in harmonie met die natuur te boer nie, maar ook dat dit inderdaad voordelig is deurdat dit produktiwiteit en volhoubaarheid verhoog.

Die holistiese bestuursmetodes wat in hierdie werkswinkels aangebied word, sal nie net individuele boere baat nie, maar ook die Wes-Kaap se fauna en flora wat van internasionale belang is. As die hoof roofdier (apex predator) van een van die wêreld se mees biodiverse streke, is die luiperd ʼn belangrike beheermeganisme vir die gesondheid van die hele ekosisteem.

Watter roofdiere maai in jou kudde?

Hierdie werkswinkels hoop om mens-roofdier-konflik te verminder en sodoende luiperds en ekosisteme te bewaar. Deur te boer vir biodiversiteit en die plaas as deel van die hele ekologiese sisteem in ag te neem, kan die impak van droogtes verminder word en die langtermynvolhoubaarheid van die boerderystelsel verhoog word.

Alles wat jy van die werkswinkels moet weet

Al drie werkswinkels sal tussen Augustus en Oktober 2022 by twee plekke in die Wes-Kaap – Montagu Country Hotel en Langgewens Navorsingsplaas tussen Malmesbury en Moorreesburg, gehou word. Deelnemers word aangemoedig om al die werkswinkels by te woon om die leermateriaal optimaal te benut, maar dis ook moontlik om individuele dae by te woon. Deelname kan bespreek word deur die Cape Leopard Trust se aanlynwinkel. Kostes beloop R200 per voldag-werkswinkel (of R550 vir al drie dae) en die werkswinkels begin om 09:00 en eindig 16:00. Middagete is ingesluit.

Werkswinkel 1: Holistiese droogtebestuur

Hierdie sessie word in samewerking met die Herding Academy aangebied. Dit dek metodes om produktiwiteit tydens droogtes te verhoog, insluitend die gebruik van weidingsplanne.

  • 2 Augustus 2022, Montagu Country Hotel.
  • 4 Augustus 2022, Langgewens Navorsingsplaas.

Werkswinkel 2: Holistiese predasiebestuur

Hierdie sessie word in samewerking met CapeNature aangebied. Besprekingspunte sluit roofdiergedrag-ekologie, konflikmitigering en karkas-identifikasie in.

  • 7 September 2022, Montagu Country Hotel.
  • 21 September 2022, Langgewens Navorsingsplaas.

Werkswinkel 3: Toegepaste holistiese agri-ekologiese bestuur

Hierdie sessie fokus op agri-ekologiese beginsels en bystand vir boere om prakties hierdie beginsels in hul individuele boerderye toe te pas.

  • 5 Oktober 2022, Langgewens Navorsingsplaas.
  • 19 Oktober 2022, Montagu Country Hotel.

Kontak Chavoux Luyt met enige werkswinkelnavrae by communityoutreach@capeleopard.org.za of stuur ’n WhatsApp-boodskap na 082 791 1384. – Persverklaring, Cape Leopard Trust

Must read

Samesmelting wink vir twee landboureuse

Estimated reading time: 4 minutes GWK se aandeelhouers het onlangs ten gunste van die voorgestelde samesmelting van GWK en VKB gestem. Dié besluit is tydens ʼn spesiale aandeelhouersvergadering wat op Douglas aangebied is geneem. VKB...

Land Bank responds to claims regarding its debt recovery processes

Estimated reading time: 2 minutes Land Bank has noted recent social media posts of claims that the bank and its legal representatives have been involved in aggressive methods of liquidating clients who have defaulted...

RSG Landbou: 15 Augustus 2022 – geborg deur Brahman SA Beestelergenootskap

Agri Oos-Kaap het onlangs hul 20ste jaarkongres aangebied. RSG Landbou was ook daar om die 2022 Agri Oos-Kaap jongboerwenner, Morné Fitzhenry, te ontmoet. Hy is eerste aan die woord in Maandag se aflewering van...

Katoen-verwysingsprys: Week van 8 – 12 Augustus 2022

Die Suid-Afrikaanse Katoenprodusente-organisasie (SAKPO), met die ondersteuning van Katoen SA, het ’n platform geskep om elke week ’n gemiddelde verwysingsprys vir katoenvesel deur te gee. Hierdie is slegs ’n afgeleide prys wat bereken word op...

SACTA webinar – the future of seed and cultivar technology

Estimated reading time: 4 minutes The South African Cultivar and Technology Agency (SACTA) is a non-profit company and its main responsibility is to administer the statutory law on certain self-pollinated grain crops. SACTA recently...