Estimated reading time: 2 minutes
Elethu Wines, ’n unieke swart-bemagtigingsonderneming in die Suid-Afrikaanse wynbedryf, het met sy eerste wyn, ’n Cabernet Sauvignon, ’n dubbelgoud-onderskeiding in ’n internasionale wynkompetisie losgeslaan.
Die plaas Elethu – die naam beteken “Dis ons s’n” in Xhosa – lê op die oewer van die Breërivier in die Breëriviervallei naby Bonnievale. Die onderneming het in 2007 tot stand gekom.
Daar is 33 begunstigdes betrokke by die projek, waarvan die meerderheid werknemers van die Bonnievale Wynkelder is. Dit sluit in vier permanente werknemers op die plaas self. Saam is hulle verantwoordelik vir elke aspek van die boerdery op Elethu.
Lees hoekom Suid-Afrikaanse wyne op die wêreldmark hoort.
Met die verloop van tyd is bykans 25ha se wingerd aangeplant, waarvan die eerste in 2011 geplant is. Die vernaamste kultivar is Cabernet Sauvignon. Ander sluit in Merlot, Chenin Blanc, Chardonnay, Sauvignon Blanc en Nouvelle. Alles wat betrekking het op die wingerde – van die aanplantings, snoei, oes en algemene versorging daarvan, word deur die begunstigdes self gedoen.
Elethu het in die verlede sy druiwe hoofsaaklik aan die Bonnievale Wynkelder gelewer. In 2020 is besluit om ook self wyn te maak onder leiding van sy voltydse wynmaker, Christopher Filander, ’n boorling van die omgewing wat in 2018 as ’n volwaardige wynmaker gekwalifiseer het. Hy is hierin veral bygestaan deur Elethu se hoofbestuurder, Kristin Johnson, wat vroeër hoof van gehaltebeheer van ’n vooraanstaande Kaapse wynmakery was. Die gevolg? Elethu Skalie Cabernet Sauvignon 2020.
Die resep vir ‘n dubbelgoud Cabernet Sauvignon
Skalie is die oorheersende grondsoort op die plaas. Dis ryk aan voedingstowwe en lewer, volgens Filander, druiwe van uitstekende gehalte, daarom die erkenning in die naam.
Vir die maak van Elethu se eerste wyn is die druiwe van die beste stokke met die hand en teen optimale rypheid gepluk. Dit is daarna in die kelder vir 24 uur koud geweek voor dit vir drie dae op die doppe gegis is.
Die wyn is daarna vir 18 maande in nuwe vate verouder, 70% van Franse eikehout en 30% Amerikaanse eikehout. Hoewel reeds gereed om te drink, sal die wyn oor die volgende tien jaar net verder verbeter, sê Filander.
Elethu Skalie Cabernet Sauvignon 2020 is vroeër vanjaar en vóór sy algemene bekendstelling ingeskryf vir die Gilbert and Gaillard International Challenge. Die wyn het 91 uit ’n moontlike 100 punte behaal en daarmee ’n dubbelgoud-onderskeiding ontvang.
Die wyn kan in hierdie stadium nog net direk vanaf Elethu bestel word vir deur-tot-deur-aflewering teen ’n prys van R200 per bottel. Die plan is om dit mettertyd landswyd in die kleinhandel beskikbaar te hê. – Persverklaring, Elethu Wines