Estimated reading time: 4 minutes
Die oorgang van een seisoen na die volgende kom nie sonder komplikasies vir die landbousektor nie. Verskeie faktore, soos reënval en peste, beïnvloed enige boerdery se volhoubaarheid. Net so is daar ook belangrike sperdatums wat deur arbeidswetgewing bepaal word, en waarop landbouwerkgewers moet let om risiko’s te beperk en aan wetgewing te voldoen.
Nasionale minimumloon
Werkgewers moet bewus wees van die nasionale minimumloon wat jaarliks aangepas word en vroegtydig vir die nodige loonverhogings begroot. Die jaarlikse tendens is dat die nasionale minimumloon met die verbruikersprysindekspersentasie plus 1% verhoog. Hierdie verhoging tree gewoonlik op 1 Maart elke jaar in werking. Permanente én tydelike (seisoenale) werknemers mag nie minder as die minimumloon ontvang nie.
Dienskontrakte
By aanpassings van die nasionale minimumloon is dit raadsaam vir werkgewers om ’n addendum by die dienskontrak te voeg om dié aanpassing te bevestig en dispute oor vergoeding te vermy. Met enige aanpassings in arbeidswetgewing wat die werknemers se diensbepalings en -voorwaardes raak, moet dienskontrakte sodanig gewysig word, sodra dié wysigings in die Staatskoerant gepubliseer is.
Seisoenale werk
Werknemers wat vir ’n bepaalde seisoen of tydperk aangestel word, moet ook ’n dienskontrak onderteken. Na hierdie tipe dienskontrakte word verwys as tydelike, seisoenale of vaste-termyn dienskontrakte. Dit is raadsaam om dienskontrakte op die eerste dag van indiensneming af te handel, om enige dispute te vermy.
As ’n algemene reël moet hierdie tipe dienskontrak nie vir langer as drie maande wees nie, behalwe as ’n geldige rede in die kontrak gestipuleer word. Hierdie tipe kontrak verleen aan die werknemer dieselfde regte as ’n permanente werknemer.
Werkloosheidsversekering
Die Wet op Werkloosheidsversekering, 2001 (Wet 63 van 2001) is van toepassing op alle werkgewers en -nemers, behalwe werknemers wat minder as 24 uur per maand werk, leerlinge, en nasionale of provinsiale parlementslede.
’n Bedrag gelykstaande aan 1% van die werknemer se salaris word afgetrek as die werknemer se bydrae, en ’n verdere 1% word deur die werkgewer betaal. Dit is die werkgewer se plig om die 2% aan die Werkloosheidsversekeringsfonds oor te betaal. Bydraes moet binne sewe dae ná die einde van die maand oorbetaal word.
Billike werksgeleenthede
Die Wet op Billike Werksgeleenthede, 1998 (Wet 55 van 1998) het ten doel om onregverdige diskriminasie in die werksplek uit te skakel deur gelyke geleenthede en billike behandeling te bevorder, en regstellende aksie in te stel. Aangewese werkgewers is verplig om aan dié wet te voldoen.
’n ‘Aangewese werkgewer’ is ’n werkgewer met 50 of meer werknemers, of wat ’n sekere totale jaarlikse omset toon, soos in Tabel 1 uiteengesit. Aangewese werkgewers moet jaarliks verslae van billike werksgeleenthede indien. Die verslae (EEA2 en EEA4) moet elektronies ingedien word op die Departement van Indiensneming en Arbeid se webtuiste, teen 15 Januarie elke jaar.
COIDA-wetgewing
Volgens die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes, 1993 (Wet 130 van 1993), of COIDA, moet alle werkgewers by die Vergoedingskommissaris registreer. Wanneer ’n besering of sterfte van ’n werknemer aan diens plaasvind, maak hierdie wet voorsiening vir ongeskiktheidsvergoeding.
Werkgewers moet jaarliks in Mei ’n opgawe indien vir berekening van die betaalbare fooi. Neem kennis dat dié wet onlangs gewysig is. Huiswerkers moet nou ook by die Vergoedingskommissaris geregistreer word. – Anneline Scriven, senior regsadviseur, LWO
Die LWO Werkgewersorganisasie staan werkgewers by om aan arbeidswetgewing te voldoen en om dit tot hul voordeel te gebruik om hul onderneming te beskerm. Die LWO Werkgewersorganisasie, as ’n geregistreerde werkgewersorganisasie by die Departement van Indiensneming en Arbeid, het die reg om lede by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) te verteenwoordig. Kontak die LWO by 086 110 1828 of ansofie@lwo.co.za.