Estimated reading time: 4 minutes

Vir meer as 60 jaar al stel Voermol Voere produsente in staat om hul vee strategies te voer sodat hulle die beste moontlike diereprestasie kan behaal. Deur middel van wetenskaplike navorsing met die nuutste voedingstegnologie het die maatskappy ‘n reeks uitstekende melasse-gebaseerde produkte vir herkouers ontwikkel.

Voermol se doeltreffende produkte en kostedoeltreffende voerstelsels is herhaaldelik wetenskaplik in die veld bewys. As ‘n toonaangewende rolspeler in die herkouervoerbedryf is Voermol verbind tot die ontwikkeling van kommersiële en volhoubare veeboerdery. Daarom is die maatskappy se doelwit om bees-, skaap-, bok- en herkouerwildprodusente se produktiwiteit te verbeter.

Gevolglik het Voermol die Nasionale Bees- en Skaapboer van die Jaar-kompetisie ontwikkel wat erkenning gee aan Suid-Afrika se doeltreffendste veeprodusente. Die kompetisie kyk ook na hoe deelnemers natuurlike hulpbronne in ag neem.

Suksesvolle praktyke

In 1983 het BKB en die Universiteit van Pretoria ‘n ondersoek na wolboerdery gedoen en dit is die mees onlangse ondersoek van sy soort. Hulle het vasgestel dat die gemiddelde lampersentasie 74,3% was. Die gemiddelde kalfspeensyfer was net minder as 60%. Dit was egter bekend dat sommige top veeprodusente veel beter produksiesyfers behaal het, alhoewel die presiese syfers nie bekend was nie.

‘n Praktiese, werkbare metode moes gevind word om inligting op plaasvlak in te samel. Dit is een van die redes vir die ontstaan van die Nasionale Bees- en Skaapboer van die Jaar-kompetisie. Hierdie kompetisie, wat alreeds 17 keer aangebied is, is deur wyle Hendrik van Pletzen, voormalige tegniese bestuurder van Voermol, van stapel gestuur.

Van Pletzen het ook die kompetisie begin met die doel om bedryfsdata in te samel vir die doeleindes van normtoetsing. Hy wou produsente help om uit die wenners se suksesvolle boerderypraktyke te leer en sodoende hul eie produktiwiteit te verbeter en om produksiedata van veeprodusente op grondvlak in te versamel.

Hy wou ook ’n nuwe maatstaf vir speenpersentasie ontwikkel en bestuurspraktyke van suksesvolle veeprodusente opteken. Nog ’n doel van die kompetisie is om by te dra tot die verbetering van die winsgewendheid van veeboerdery in Suid-Afrika en om erkenning te gee aan Suid-Afrika se suksesvolle veeprodusente.

Inligting oor die kompetisie word deur die media, boeredae en boereverenigings versprei. Boeredae word op die wenners se plase gehou waar waardevolle inligting en praktiese insig oorgedra word.

Die hoofborge sluit BKB, FNB, Landbouweekblad, Zoetis en Voermol in. Die kompetisie geniet ook die steun van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) en die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO).

Voermol en die borge se landswye tegniese en verkoopspanne verskaf op bees- en skaapprodusentgeleenthede opleiding en kundige advies aan produsente en plaaswerkers in die kommersiële en opkomende boerderybedryf.

Voermol en die borge ondersteun ook die ontwikkeling van kommersiële en opkomende veeprodusente deur die borg van bedryfsorganisasies soos die NWKV en die RPO asook bees-, skaap- en boktelersgenootskappe. 

Steun in die bedryf

Voermol en die borge se verbintenis tot die verbetering van die produktiwiteit van bees-, skaap-, bok- en herkouerwildprodusente, sluit in:

  • Om produsente in staat te stel om vee strategies te voer sodat hulle hul opbrengs op belegging kan maksimaliseer.
  • Om die skep, versameling en verspreiding van waardevolle inligting oor produktiwiteit te verbeter.
  • Om opleiding en kundige advies aan kommersiële en opkomende veeprodusente te verskaf.
  • Om finansiële steun in die vorm van borgskappe aan bedryfsorganisasies te bied.
  • Om professionele interaksie te bevorder en só die landboubesigheidsomgewing in die belang van al Suid-Afrika se veeprodusente te verbeter.

Die beste produsente

Kandidate vir die kompetisie moet toonaangewende produsente in hul omgewing wees en ’n voorbeeld vir hul eweknieë stel. Dié kandidate se bestuurspraktyke en -resultate moet as ’n maatstaf dien.

’n Ervare span onafhanklike beoordelaars sal drie finaliste in elke afdeling (bees en skaap) kies en plaasbesoeke doen om die wenners te bepaal.

Enige produsent kan benoem word indien medeprodusente hulle met die kandidaat kan vereenselwig. Die kandidate moet bereid wees om produsente op hul plase te ontvang en ’n boeredag met die samewerking van die organisasies wat by die kompetisie betrokke is, aan te bied. Die sluitingsdatum vir benoemings is 8 September 2023. 

Kriteria waarna gekyk word sluit die volgende in:

  • Hulpbronbenutting.
  • Voervloeibeplanning.
  • Weidingbestuur.
  • Teling- en seleksiemaatstawwe.
  • Rekordhouding.
  • Vergelyking met ander norme.
  • Bemarking en waardetoevoeging.
  • Kuddeproduksie.
  • Voorkoms en kondisie van diere.
  • Infrastruktuur.
  • Personeelbestuur.
  • Deelname aan georganiseerde landbou.

Die kompetisie bied die geleentheid om met die beste produsente in die veebedryf mee te ding, asook om maatstawwe vir die bedryf daar te stel. Die standaarde van die top veeprodusente het tot só ’n mate verbeter dat prestasie noukeurig dopgehou moet word wanneer die inskrywings geëvalueer word. Dit is ’n groot eer om as finalis of wenner aangewys te word.

Laai die inskrywingsvorm hier af:

Inskrywingsvorm vir beeste

Inskrywingsvorm vir skape

Wenners word op 15 November 2023 tydens ’n galadinee in Bloemfontein aangekondig.

Veeprodusente kan direk inskryf of deur ‘n georganiseerde landbou-organisasie of selfs ‘n individu genomineer word. Die inskrywingsvorm is ook landswyd beskikbaar by Voermol en die borge.