Estimated reading time: 3 minutes
Die Rooivleisbedryfsdienste (RMIS) se operasionele sentrum (OS) by sy hoofkantoor in Pretoria is gereed vir nasionaal gekoördineerde aksie teen bek-en-klouseer (BEK)-uitbrekings wat verskeie provinsies steeds teister.
Die OS sal in drie verskillende fases uitgerol word volgens ’n RMIS-persverklaring. Die doel van die fases is om vinnige implementering, relevansie, en operasionele doeltreffendheid te verseker. Om dadelik funksionaliteit te kon verseker, het Fase 1 op die vestiging van die kern operasionele vermoëns van die OS gefokus. Hierdie fase lê die fondasie vir doeltreffende koördinering en beheer, met die volgende sleutelkomponente:
- Toesig:
Die RMIS maak van ’n bestaande nasionale netwerk van 177 privaat herkouer-veeartse gebruik wat daagliks die BEK-situasie op grondvlak monitor.
- Rapportering
Hierdie privaat veeartse is reeds besig om maandeliks data oor siektes aan RMIS te rapporteer deur die Veeartsenykundige Netwerk (V-Net)-toepassing. Die bestaande rapporteringstelsel, tesame met ’n aangewese WhatsApp-kanaal, sal nou ook dien om vinnige, tydige kommunikasie van moontlike BEK-gevalle direk aan die OS te verseker.
- Kartering
Enige verdagte BEK-gevalle, wat deur die privaat veeartse aangemeld word, word tydig op die RMIS-platform gekarteer, wat spesifiek vir hierdie doel ontwikkel is. Elke moontlike geval se status word dan voortdurend gemonitor en op die platform vertoon, wat ’n nasionale oorsig van die uitbreking bied. Hierdie visuele oorsig ondersteun doeltreffende siektebestuur en besluitneming binne die OS.
- Geo-grense (‘Geo-fencing’)
Ondersteuning word aan produsente, veilingshuise, voerkrale, en abattoirs gebied om hulle te registreer en hul grense op die platform aan te dui. Dít help die OS om geteikende biosekuriteitsreaksies en -inperking tydig te kan uitvoer.
- Koördinasie
Die BEK-gebeurlikheidsplan sluit ’n duidelike stap-vir-stap-proses in wat gevolg moet word indien ’n veearts vermoed dat BEK iewers uitgebreek het. Die OS sal hierdie koördinasie ondersteun en kommunikasie tussen die produsent, veearts, staatsveearts, laboratorium, en die Nasionale Departement van Landbou se Direktoraat Dieregesondheid koördineer om te sorg dat akkurate uitvoering binne ’n tydige tydsraamwerk sal plaasvind.
- Kommunikasie
Opdaterings oor die status van gevalle en die kartering van uitbrekings sal direk aan veeartse op die RMIS-platform via WhatsApp gekommunikeer word, om vinnige, akkurate, en vaartbelynde inligtingoordrag te verseker.
- Menslike hulpbronne
’n Toegewyde span is aangewys om die OS te bestuur sodat daar genoeg kapasiteit is om tydige koördinasie te verseker. Ondersteuning word ook deur ’n toegewyde telefoonlyn gebied.
Volgende fases
Tydens Fase 2 beplan die RMIS om ’n openbare rapporteringskanaal bekend te stel. Dié kanaal sal aan lede van die publiek die geleentheid bied om die verdagte verskuiwing van diere te rapporteer. Dit sal in samewerking met verskeie georganiseerde landbou-organisasies plaasvind.
Daarna sal Fase 3 ingestel word. Dié fase sal fokus op die integrasie van ’n elektroniese risikomonitering- en bewegingspermit-stelsel, wat in die RMIS-platform ingebou sal word en dit sal ook met behulp van die onderskeie georganiseerde landbou-unies in werking gestel word. – RMIS-persverklaring verwerk deur Plaas Media

