Estimated reading time: 4 minutes
Karan Beef, Suid-Afrika se grootste voerkraal, het positief getoets vir bek-en-klouseer (BEK). Die voerkraal het die slegte nuus in ‘n skrywe aan sy kliënte bevestig en gesê daar word nou saam met die staat se veeartsenydienste gewerk, en dat alle innames van beeste by sy Heidelberg-fasiliteit tot tyd en wyl gestaak word.
Die rimpeleffek hiervan is groot en kon selfs vóór die bevestiging van die bloedtoetsuitslae gevoel word. Volgens gerugte het die gevolglike markpaniek daartoe gelei dat daar op Maandagoggend, 2 Junie, bykans geen prys op veilings vasgemaak kon word nie. Karan Beef koop maandeliks tussen 40 000 en 50 000 kalwers aan en die wegval van hierdie mark sal ‘n enorme uitwerking op die speenkalfprys hê.
Kliniese tekens gevind
Die voerkraal het na bewering diere met kliniese tekens in sy Heidelberg-fasiliteit teëgekom onder ‘n groep diere wat alreeds die nodige kwarantyn en voerkraalfases voltooi het, en slaggereed was. Hoe die besmetting in hierdie laat stadium plaasgevind het, was ten tyde van hierdie berig nog onbekend. Dr Danie Odendaal van Veearts Netwerk sê daar is nog nie ‘n verklaring hiervoor nie. Hoe dit ook al sy, inentings is nou krities belangrik.
Hierdie uitbreking is ‘n groot bron van kommer vir die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), sê dr Frikkie Maré, hoof uitvoerende beampte van die organisasie. Wanneer BEK op ‘n plaas uitbreek, affekteer dit die betrokke produsent en ander plase of eiendom in ‘n 10km radius om die geaffekteerde plaas. Hoewel dit die geaffekteerde produsent en sy bure in baie negatiewe en benarde situasie plaas, is die groter mark redelik geïsoleer daarteen.
‘n Slag vir die mark
“Die uitbreking by ‘n voerkraal so groot soos Karan Beef is egter iets heel anders. Ons het dit in die verlede by ‘n ander gerekende voerkraal ook gesien. Dit gooi letterlik die hele mark omver,” verduidelik hy. “Karan Beef is die land se grootste enkele aankoper van speenkalwers en indien daardie mark moet toemaak, en dit terwyl ons ons in speentyd bevind, gaan dit ‘n reuse-effek op speenkalfpryse hê.”
Hy sê die RPO hoop dat alle moontlike maatreëls geneem sal word om die impak hiervan te mitigeer. Karan Beef is ‘n gevestigde onderneming wat op groot skaal funksioneer, en is vir jare al ‘n toonbeeld van goeie biosekuriteit. Tog het die BEK-virus hulle getref.
“Ons moet verder onthou dat Karan Beef ook ‘n groot uitvoerder van vleis is. Indien hulle nie met besigheid en uitvoere kan voortgaan nie, gaan daardie vleis deur ander krale wat nié die nodige uitvoerkontrakte het nie, aan die binnelandse mark verkoop moet word. Dit kan karkaspryse negatief beïnvloed.
“Die vraag is hoe Karan Beef op hierdie situasie gaan reageer en of hy sy model kan aanpas om van sy houstasies te gebruik om diere aan te hou en te voer. Hoe dit ook al sy, ons staan op ‘n draaipunt,” sê dr Maré. “Dit is nou nie meer net ‘n geval van geaffekteerde gebiede wat aangespreek moet word nie. Dis eerder tyd dat die situasie nou holisties hanteer word en dat daar nie net meer gepraat word oor die toepassing van biosekuriteit nie, maar dat ‘n nuwe plan op die tafel kom en die Suid-Afrikaanse BEK-situasie daadwerklik aangespreek word.”
BEK-vure kom nie geblus nie
‘n Nuwe benadering, aldus dr Maré, kan een van twee rigtings volg – óf BEK moet totaal en al uitgewis word, wat binne Suid-Afrikaanse omstandighede haas onmoontlik is, óf die bedryf moet aanvaar dat die siekte endemies is en ons daarmee moet saamleef. “Dan sal ons egter ‘n waterdigte plan rondom inentings en bestuur moet hê, anders gaan ons nooit kan uitvoer nie. Wat wel soos ‘n paal bo water uitstaan, is dat ons nie op die huidige manier kan aangaan en hoop dat ons in een of ander stadium BEK-vry verklaar gaan word nie. Dit is ‘n onseker situasie en geen bedryf kan so funksioneer nie.”
Hierdie jongste uitbreking volg op ‘n reeks verklarings die afgelope maande waarin die Nasionale Departement van Landbou bekendgemaak het dat BEK op plekke in Gauteng bevestig is, waaronder in die Midvaal-omgewing rondom die Synag-melkery in Witkop en Witkoppies, en vroeër in die Mogale-distrik. Laasgenoemde het saamgeval met beskuldigings van gesondheidsverklarings wat lukraak by veilingspersele se hekke uitgedeel word vir voltooiing.
Die Karan-ramp, soos ‘n mens dit tereg kan stel weens die enorme implikasies daarvan, val ook saam met toenemende druk uit KwaZulu-Natal dat BEK tot ‘n ramp verklaar word, aangesien die voorkoms van die siekte in daardie provinsie geensins onder beheer is nie en al hoe meer produsente daardeur geaffekteer word. Toe hierdie berig geskryf is, was daar steeds 149 aktiewe gevalle in die provinsie en rolspelers meen daar is tans geen einde in sig nie.
Besighede se voortbestaan word bedreig en die bedryf het sy vertroue in die land se veterinêre protokolle en administrasie verloor. – Lynette Louw, Plaas Media




