Estimated reading time: 4 minutes
Die verbruik van beesvleis kan in die volgende dekade met 13% groei, wat uitstekende geleenthede vir vleisbeesprodusente bied. Terselfdertyd is daar egter nuwe uitdagings.
Dr Ben Greyling van die Landbounounavorsingsraad (LNR) se Diereproduksie-eenheid by Irene, het tydens die Thabazimbi Landbou- en Nywerheidskou se beesskool wat deur die Afrikanerbees Bosveld-studiegroep en LNR aangebied is, gesê landbou is die kern van voedselsekerheid om die land se 60,3 miljoen mense te voed. Bruto-inkomste uit alle landbouprodukte beloop sowat R368 miljard per jaar en 56% daarvan bestaan uit diereprodukte.
Styging in beesvleisverbruik
Stygende inkomstevlakke en die voortgesette verstedeliking van die middelklasbevolking het vleisverbruik die afgelope dekade in Suid-Afrika laat styg. Gemiddelde beesvleisverbruik in Suid-Afrika beloop sowat 17,45kg per kop per jaar.

Suid-Afrika beskik oor diverse beesrasse wat geneties toegerus is om by die land se uitdagende landskap aan te pas, weerstand teen siektes te bied, vrugbaar is en goeie vleis produseer. Die grootste geleenthede lê in die toepassing van tegnologie vir genetiese vordering. Die opbrengs op belegging in die genetiese verbetering van vleisbeeste is merkwaardig. ’n Ondersoek in Suid-Afrika het bepaal dit kan soveel as 31,8% beloop en internasionaal word bereken dat dit so hoog as 1:18 kan wees.
Kry die weeklikse rooihek-rooivleispryse hier.
Dr Greyling glo daar is ’n groot vraag na geneties-meerderwaardige teeldiere, met prestasiegegewens en navorsing wat die grondslag is.
Voerkrale voer die botoon
Prof Michiel Scholtz van die LNR se Navorsingsinstituut by Irene het gesê van 70 tot 80% van die beesvleis in Suid-Afrika word deur voerkrale verskaf. Hulle is afhanklik van produsente om speenkalwers aan hulle te verskaf. Dit is belangrik dat produsente moet verstaan watter faktore die winsgewendheid van voerkrale beïnvloed, sodat hulle aan die nodige vereistes kan voldoen.
Twee eienskappe bepaal 45% van die voerkraal se wins, naamlik groei (gemiddelde daaglikse gewigstoename), wat die karkasgewig bepaal wat 34,1% tot winsgewendheid bydra; en die hoeveelheid voer wat die bees vreet (voeromsetverhouding of VOV) wat 10,7% beloop. Vrektes en beserings kan die winsgewendheid van voerkrale met tot 31,6% beïnvloed. Hulle verkies gesonde kalwers wat verkieslik onthoring of poenskop is.
Dit is dus noodsaaklik dat vleisbeesprodusente bulle gebruik wat kalwers kan verwek wat aan dié vereistes voldoen. Hierdie inligting moet aan voerkrale se aankopers verskaf word. As hulle nie die inligting het nie, moet hulle op grond van die kalwers se voorkoms besluit hoeveel hulle gaan betaal.
Die per-kilogram prys wat op veilings vir swaar speenkalwers betaal word, is gewoonlik laer as dié van ligter kalwers (Tabel 1).
Tabel 1: Die prys wat vir speenkalwers op veilings betaal word.
Klas | Junie 2023 | Julie 2023 |
Kalwers 180 tot 200kg | R31/kg | R38/kg |
Kalwers 200 tot 250kg | R29/kg | R36/kg |
Kalwers 250 tot 300kg | R28/kg | R33/kg |
Swaarder kalwers behaal laer pryse per kilogram op veilings:
- Vir ’n kalf van 200kg (uitslagpersentasie 56% teen R31/kg) betaal die voerkraal R55,36/kg vir die 112kg vleis wat dit oplewer. As die vleisprys R52/kg is, beloop die verlies R376.
- Vir ’n kalf van 250kg teen dieselfde prys en uitslagpersentasie, betaal die voerkraal R55,36 vir die 140kg vleis. Teen ’n vleisprys van R52/kg is die verlies R470. Dit behels ’n verskil van bykans R100 of R2/kg.
Daar is gevolglik ’n optimale speenkalfgewig wat voerkrale verkies.
Die invloed van klimaatsverandering

Prof Scholtz het bygevoeg dat klimaatsverandering ’n werklikheid is wat buitengewone toestande soos meer droogtes, vloede, hoër temperature en hittegolwe tot gevolg kan hê.
By vleisbeesboerdery sal dit ’n afname in produksie, laer reproduksie en meer siektes veroorsaak. Die gehalte en volume van natuurlike weiding sal afneem en die verspreiding van bosluise gaan verander. Siektes soos hartwater, galsiekte, rooiwater en Ooskuskoors sal voorkom in gebiede wat vroeër vry daarvan was.
Die drempeltemperature wat hittespanning by beeste veroorsaak, is 30°C met ’n relatiewe vogtigheid van laer as 80% en 27°C met ’n relatiewe vogtigheid hoër as 80%. As dié drempel oorskry word, verlaag die beeste se voerinname, drink hulle meer water, hul groeitempo neem af en vrugbaarheid daal.
Klimaatslimstrategieë wat boere kan volg, is om met nuwe oë na voorkoms en bouvorm te kyk, aangepaste inheemse rasse beter te benut, koei-kalf-doeltreffendheid te verbeter, te selekteer vir alternatiewe faktore van doeltreffendheid, kruisteling doeltreffend te gebruik, en’n vroeë waarskuwingstelsel teen uitdagende klimaatstoestande te ontwikkel.
Die uitdaging gaan wees om produsente te oortuig om vir kleiner beeste met langer bene, en langer naelvelle en skedes te selekteer, maar om steeds teen prolaps-skedes te waak. Daarby behoort diere uitgesoek te word wat ’n ligter haarkleur en donkerder velpigment het, want dit verhoog hitteverdraagsaamheid. – Andries Gouws, Plaas Media
Vir meer inligting, kontak dr Ben Greyling by Ben@arc.agric.za of prof Michiel Scholtz by GScholtz@arc.agric.za of kontak die LNR se Diereproduksie-eenheid by 012 672 9111.