Die argument dat boere in die waardeketting aan die kortste ent trek, is al jare met ons. Hoewel dit waar is dat die veeboer se aandeel in die biefstuk op die supermark se rak klein is, is dit nie iets wat sommer gaan verander of reggestel kan word nie. Produsente ondersoek dus alternatiewe metodes om ’n groter deel van die verbruiker se rand te kry.

Een metode waardeur produsente dit regkry om meer waarde tot hul diere toe te voeg, is deur die diere op die plaas af te rond voordat hulle bemark word. Hierdeur kan finaal afgeronde kalwers direk aan die abattoir bemark word, of die produsent kan kalwers wat reeds “backgrounding” ondergaan en dus groter is aan die voerkraal verkoop.

Die afronding kan deur middel van ’n plaasvoerkraal geskied, of die diere kan op die veld of aangeplante weiding afgerond word. Indien ’n produsent dit oorweeg om een van hierdie stelsels te gebruik, is dit belangrik dat hy sommige aspekte van die stelsels verstaan.

Voerkraalafronding

Tot soveel as 70% van die beesvleis wat in Suid-Afrika geproduseer word, is van beeste wat in kommersiële voerkrale afgerond word. Produsente gebruik plaasvoerkrale om verdere waarde tot hul vee toe te voeg deur ’n swaarder dier direk aan die abattoir te bemark.

Dit is ook ’n gewilde neiging dat mielieboere ten tye van lae mieliepryse hul graan benut deur hul eie of ingekoopte kalwers te voer. Op dié manier kan hulle indirek meer waarde van hul graan kry.

Veldafronding

Onder veldafrondingstoestande word grotendeels natuurlike en/of aangeplante weidings gebruik om diere markgereed te kry. Die afrondingsproses neem gewoonlik langer as voerkraalafronding, aangesien die energie- en proteïenwaarde van natuurlike weiding nie so hoog soos dié van ’n volvoerrantsoen is nie. Vee ontvang ook gewoonlik byvoeding en aanvullings om optimale prestasie in die weidingstoestande aan te moedig.

Geskiktheid van rasse

Nie alle rasse sal ewe goed presteer onder voerkraal- of veldafrondingstoestande nie. Rasse wat gewoonlik beter presteer in die voerkrale is die grootraamrasse, byvoorbeeld die Europese rasse. Die rasse wat laatryp is, begin eers in ’n later stadium vet aansit, wat dit moontlik maak om hulle vir langer tydperke te voer. Sodoende word meer waarde toegevoeg tot die dier in terme van vleis, sonder om die karkasgradering negatief te beïnvloed.

Rasse wat beter behoort te vaar in ’n veldafrondingstelsel, is die klein- tot mediumraam inheemse rasse. Omdat hulle vroegryp is, begin hulle vroeg vet aansit, wat hulle minder geskik maak vir voerkraalafronding. Sommige van die inheemse rasse is ook geneig om later te wissel, wat produsente dan meer tyd gee om die diere markgereed te kry sonder om in te boet op ’n laer ouderdomsgradering.

Geskikte omgewingstoestande

Die omgewingstoestande waarin geboer word, sal ook ’n uitwerking hê op die afrondingsopsies. Eerstens moet die diere waarmee geboer word in die omgewing aard en aangepas wees. Kleinraamdiere wat makliker beweeg, word gewoonlik gebruik om bergagtige weidings te benut. Dus sal boere met hierdie tipe weidings makliker kan oorskakel na veldafronding.

Veldafronding van veral jong diere sal makliker in die somermaande wees wanneer daar ’n oorvloed sappige groen gras met ’n goeie voedingswaarde is. Boere sal dus moet besluit of hulle die koeikuddes se kalfseisoene daarvolgens gaan aanpas sodat die diere op ’n gepaste tyd vir afronding gespeen word, en of hulle dit kan bekostig om kalwers te oorwinter.

Dit moet in ag geneem word dat die gehalte van suurgrasveld slegs vir vier tot vyf maande goed genoeg is om kalwers op uit te groei. Vir soet en gemengde veld is die tydperk tot so lank as agt maande van die jaar.

Verder verloor speenkalwers ook gewoonlik in die winter gewig op suurveldweidings. Die voordele van veldafronding sluit in dat dit nie so arbeidsintensief is soos ’n plaasvoerkraal nie. Byvoeding hoef ook nie noodwendig elke dag uitgesit te word nie. As die veldafgeronde diere suksesvol bemark kan word as “grass-fed”, sal dit vir die produsent ’n premie kan verseker.

Aanpassing van produksiestelsel

As ’n produsent besluit om oor te skakel en self sy kalwers af te rond, moet hy onthou om sy huidige produksiestelsel daarvolgens aan te pas. Dit sal dalk makliker wees om van ’n veldafrondingstelsel aan te pas na ’n tipe os-produksiestelsel. Omdat die diere nou direk met die huidige koeikudde gaan meeding om weiding, sal die getal koeie verminder moet word om weiding vir die afrondingsdiere beskikbaar te stel.

In die geval waar ’n produsent op die oomblik speenkalwers bemark, sal ’n plaasvoerkraal makliker by sy produksiestelsel inpas. Die voerkraaldiere sal nie soseer meeding om weiding, soos die veldafgeronde diere, nie. Een van die nadele van ’n plaasvoerkraal is dat bykomende beleggings benodig gaan word vir die oprig van die krale en ander uitgawes.

Mielies en die voerkraal

As dit oorweeg word om self-geproduseerde mielies in ’n plaasvoerkraal te benut, moet boere die geleentheidskoste van die mielies en die speenkalf in ag neem. Met ander woorde, boere moet vasstel wat die inkomste sou wees as die mielies en speenkalwers direk bemark word.

Dit kan hanteer word asof die plaasvoerkraal die onderskeie insette teen ’n realistiese, markverwante prys by die verskillende vertakkings koop. Dit help nie dat boere slegs die produksiekoste in ag neem om te bereken of hulle met ’n voerkraal meer waarde tot hul produk sal kan voeg nie. Slegs as teen markverwante pryse nog waarde toegevoeg kan word, sal ’n plaasvoerkraal sin maak.

Dieselfde beginsel kan gebruik word as veldafronding oorweeg word. Onthou dat die koeikudde nou kleiner gaan wees, met ander woorde minder kalwers sal gespeen word. Die inkomste wat nou verlore gaan as gevolg van minder speenkalwers, moet dus teen die toegevoegde waarde van die swaarder veldafgeronde diere opgeweeg word.

Die huidige marktoestande

Indien na die marktendense van die mielie-, speenkalf- en karkaspryse gekyk word, kan gesien word dat die speenkalf- en karkasprys sywaarts beweeg terwyl die mielieprys baie wissel. Dus sal boere baie fyn moet oplet wat met die mielieprys gebeur. Dit kan wees dat ’n boer een seisoen sy diere winsgewend sal kan afrond in ’n plaasvoerkraal, maar dat dit die volgende jaar glad nie sal sin maak nie.

As ’n mens na die huidige pryse kyk, is dit duidelik dat die mielieprys geweldig gestyg het terwyl die karkasprys slegs effens verbeter het. Ons kan nie sien dat enige boer teen die huidige pryse nog waarde tot sy diere sal kan toevoeg met ’n plaasvoerkraal nie.

Figuur 1: Marktendense van die speenkalf-, karkas- en geelmieliepryse.

screenshot-2016-12-09-13-52-30

 Ten slotte

Die afronding van jou eie diere is gewoonlik die volgende logiese stap indien ’n produsent sy onderneming vertikaal wil uitbrei. Hierdie besluit kan egter ’n groot invloed op die onderneming hê en dit gaan dalk nie altyd positief wees nie.

Dit is dus belangrik om die verskillende afrondingsmetodes noukeurig te ondersoek en te besluit watter een die beste by jou boerdery gaan inpas. Daar is baie kenners van die verskillende stelsels in Suid-Afrika en dit sal wys wees om die raad van vee- en weidingkundiges, voerkundiges en landbou-ekonome in te win voor finaal besluit word. -WA Lombard en Frikkie Maré, UFS

Verwysings is van die outeurs beskikbaar by epos wa.veeplaas@gmail.com.

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY