ARF skenking: 60 Angora-ooie op Klipplaats verwelkom

182
Die 60 Angora-ooie wat Johannes Gouws van die Jansenville-distrik danksy die ARF ontvang het.
Zoetis ondersteun die ARF finansieel. Die eerste tjek is in Augustus 2021 aan die ARF oorhandig en die tweede tjek is op 10 Maart oorhandig. Hier oorhandig Johandi Mentz, bemarkingsbestuurder by Zoetis, die tjek aan Lutz Nell, besturende direkteur van Agribonus. Hy het die tjek namens die ARF in ontvangs geneem.

Die Agri Relief Foundation (ARF) het onlangs sy eerste skenking aan ʼn kommersiële produsent op die plaas Klipplaats in die Jansenville-distrik gemaak toe 60 Angora-ooie op sy plaas afgelewer is. Dit volg nadat die boer, Johannes Gouws, groot skade gely het – eers weens droogte en toe weens swaar reën wat veroorsaak het dat die rivier oorstroom het. ʼn Groot hoeveelheid van sy Angora-bokke het in die vloed weggespoel en verdrink. Boonop het die weerlig ook sy teelbul doodgeslaan.

Gevolglik het hy aanlyn by die ARF aansoek om verligting gedoen en het die organisasie ondersoek ingestel en besluit om eerder topgehalte Angora-bokke by ʼn veiling te koop as verligting vir sy kuddeverlies en as bydrae tot die heropbou van sy kudde. Die fonds het 60 teelooie gekoop en op sy plaas afgelewer met die hulp van onder andere Zoetis.

 Zoetis ondersteun die ARF finansieel en skenk ’n persentasie van die verkope op uitgesoekte produkte aan die ARF. Die eerste tjek is in Augustus 2021 aan die ARF oorhandig en die tweede tjek is op 10 Maart oorhandig.

Volgens Lutz Nell, besturende direkteur van Agribonus, die instansie wat die ARF se administrasie hanteer, hoop hulle om op hierdie wyse voort te gaan om verligting te bring aan boere wat dit werklik nodig het. Meer inligting is by www.agrirelief.co.za. – Saamgestel deur Elmarie Helberg, AgriOrbit.