Antimikrobiese weerstand en die oorgang van blote bewustheid daaroor na die neem van aksie vir die bestuur daarvan, is vanjaar die fokus van Wêreld Veeartsdag op 29 April. Dié dag word jaarliks deur die Wêreld Veterinêre Vereniging (WVA) en die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) aangebied ter bevordering van die verskillende aspekte van dieregesondheid en die veeartsenykundige bedryf.

In ’n onlangse nuusbrief van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) is berig dat die Nasionale Dieregesondheidsforum op hul vorige vergadering baie aandag geskenk het aan die kwessie van weerstand teen antimikrobiese middels. Die grootste bekommernis is dat daar tans geen sentrale punt in die Suid-Afrikaanse dieregesondheidsbedryf is vanwaar bevindinge en statistieke oor weerstand gedeel kan word nie.

Nog ’n belangrike besprekingspunt was beter samewerking tussen die dieregesondheidsbedryf en die menslike gesondheidsbedryf. “Dit is kommerwekkend dat veeartse en die veebedrywe agtergelaat word. Verskeie vergaderings is met die mediese professie, wat nie bewus is van die werk wat veeartse doen nie, gehou,” lui die nuusbrief.

Nasionale aksieplanne

In die konteks van antimikrobiese weerstand is die verantwoordelike gebruik van die betrokke middels uiters belangrik. Volgens die OIE is voldoende toegang tot antimikrobiese middels noodsaaklik om dieresiektes doeltreffend te behandel. Die organisasie beklemtoon in dieselfde asem die belangrikheid daarvan dat toegang en gebruik goed gereguleer word. Hier word die betrokkenheid van goed-opgeleide veeartse en die opleiding van persone wat met die middels moet werk, sterk beklemtoon.

Die OIE, Voedsel- en Landbou-organisasie van die Verenigde Nasies (FAO) en Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) het in 2015 ’n globale aksieplan oor antimikrobiese weerstand in werking gestel. Dié plan ondersteun onder meer die organisasies se lidstate om nasionale aksieplanne oor antimikrobiese weerstand te ontwikkel.

In die konteks hiervan is ’n belangrike dokument, “Strategic and operational guidance on animal and environmental aspects: National action plans on antimicrobial resistance for developing countries”, in Januarie 2017 deur die Sentrum vir Wetenskap en Omgewingsake in Indië bekendgestel.

 Spesifieke doelwitte en aksieplanne is op drie gebiede ontwikkel:

  • Die verantwoordelike gebruik van antimikrobiese middels by produksiediere.
  • Regulering van die gebruik van antibiotika, bestuur van residue en weerstand.
  • Omgewingsbestuur om antimikrobiese weerstand te beperk.

 Klik hier vir die Sentrum vir Wetenskap en Omgewingsake in Indië se dokument.

 Riglyne vir verantwoordelike gebruik

Verskeie bronne met riglyne vir die verantwoordelike gebruik van antibiotika is beskikbaar. Van die riglyne wat uitgelig word, is:

  • Gebruik antibiotika altyd volgens die korrekte dosis en voltooi die kursus.
  • Respekteer onttrekkingstydperke.
  • Handhaaf goeie higiëne en biosekuriteit om die verspreiding van bakterieë te voorkom. Hiervoor is dit ook belangrik dat veedigtheid goed bestuur word.
  • Wees eerlik oor die gebruik van antibiotika in ’n produksiestelsel.
  • Gebruik slegs antibiotika in gevalle waar dit werklik nodig is.
  • Kry ’n dieregesondheidsplan vir jou kudde in plek en hou daarby. Besluit ook hoe antibiotika in jou produksiestelelsel gebruik sal word.
  • Gebruik middels wat ’n voorskrif vereis slegs vir diere en gevalle waarvoor dit voorgeskryf is.
  • Moenie antimikrobiese middels gebruik wat onwettig verkry is nie. Medisyne moet ook nie tussen plase uitgeruil word nie.
  • Hou siek en behandelde diere apart.
  • Lei werkers wat medisyne moet toedien korrek op.
  • Hou volledig rekord van diere se behandeling.

Een van die belangrikste riglyne vir die verantwoordelike gebruik van antimikrobiese middels is dat dit altyd in oorleg met ’n veearts moet wees. Die veearts moet al die nodige inligting hê oor vorige siektes en ander medisyne wat gebruik word.

***

Wêreld Veeartsdag-kompetisie

Dit is belangrik dat veeartse ’n prominente rol speel in ’n gedragsverandering in die gebruik van antimikrobiese middels. ’n Kompetisie word tans aangebied om die oorgang van woorde na aksie aan te moedig.

Die kompetisie is daarop gemik om erkenning te gee aan inisiatiewe, gelei deur die veeartsbedryf in samewerking met ander sektore, wat die verantwoordelike gebruik van antimikrobiese middels bevorder. Die wenner sal op 21 Mei tydens die openingseremonie van die OIE se 85ste algemene sitting in Parys, Frankryk, aangekondig word. Die toekenning sal tydens die Veeartsenykundige Wêreldkongres, wat in Augustus vanjaar in Korea aangebied word, aan die wenner oorhandig word. -Marike Brits, Veeplaas Tydskrif

Klik hier vir meer inligting.

Verskeie hulpbronne is op die Nasionale Dieregesondheidsforum se webtuiste beskikbaar. Klik hier om www.nahf.co.za te besoek

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY