Estimated reading time: 3 minutes
Die Sybokhaarkwekersvereniging het op 27 en 28 Maart 2023 twee Angora-inligtingsdae in Bronkhorstspruit aangebied. House of Fibre was een van die geleentheid se borge. Gedurende die eerste dag is ’n oorsig van die Angorabedryf gegee en op die tweede dag, is daar hoofsaaklik op die plaaswerkers gekonsentreer. Hier het hulle veral van die hantering van hierdie ras geleer.
Lees meer oor die onlangse Wheatlands Farms se Angora-veiling.
Die Angoraprodusente in die noorde het ‘n passie vir hulle bokke. Dit kom duidelik na vore wanneer hul met trots oor hulle bokke praat. Daar was baie belangstelling tydens dié twee dae en groot aanvraag van produsente wat ook met Angoras wil begin boer. Dit is ’n hoër reënval-gebied as die Karoo, en die groenweiding en mieliereste maak dit ’n hoë potensiaal-omgewing om met Angoras te boer.
Die Gauteng-area beskik tans oor 11 Angoraprodusente wat gesamentlik met meer as 1 000 Angoras boer, terwyl agt produsente in Noordwes met meer as 2 500 Angoras boer.
Angoraboerdery in Noordwes en rondom die Pretoria-omgewing groei jaarliks. Produsente het agtergekom dat Angoras uitstekend in dié gebiede werk. Hierdie bokke is ook ’n goeie finansiële vertakking in boerderye waar daar onder andere met droëland-mielies en beeste geboer word.





Veediefstal bly ’n uitdaging en die bokke moet elke aand gekraal word. ’n Voordeel is egter dat die produsent elke dag sy bokke op dié manier sien en dadelik kan agterkom indien daar ’n bok is wat siek is, of sy aandag verg.
House of Fibre is die grootste sybokhaarmaatskappy in Suid-Afrika en staan sy kliënte al vir jare by. Die maatskappy is veral trots op die genetiese vordering wat in die noordelike areas van Suid-Afrika gemaak word.
Lees meer oor die 2022 Willowmore Angora-skou.
House of Fibre wil vir elke produsent wat bydra tot die uitbreiding van die ras in die noorde baie geluk en dankie sê. Kontak die outeur by 064 758 0439 vir navrae of bystand. – Petrie Maré, House of Fibre