suurveld

Die term suurveld is uit die trekboerdae oorgeërf toe boere met hul vee tussen die sogenaamde “suurveld” en “soetveld” getrek het om aan die winter- en somervoedingsbehoeftes van hul vee te voldoen. Die “suurveld” waarna in hierdie artikel verwys word, is die grasveld in die oostelike dele van die Oos-Kaap, wat ’n relatief hoë reënval ontvang.

Dit word algemeen aanvaar dat diereproduksie deur voerinname bepaal word. Die voedingspeil van weidende diere word weer deur die hoeveelheid weiding beskikbaar, smaaklikheid en voedingswaarde daarvan bepaal. In die suurveld neem die smaaklikheid sowel as die voedingswaarde van die veld in die laatsomer aansienlik af, en dit bereik ’n laagtepunt net voordat hergroei in die lente begin.

Hierdie afname in smaaklikheid lei tot laer inname, wat deur die afname in voedingswaarde van die veld vererger word. In teenstelling met droogtes, het ons hier te doen met ’n voorspelbare voedingslaagtepunt wat jaarliks herhaal word en onvermydelik is, maar waarvoor deeglik beplan kan word.

Aangesien die faktore wat voedingslaagtepunte veroorsaak van plaas tot plaas kan verskil, sal die oorbrugging daarvan moontlik ook van plaas tot plaas aangepas moet word. Die uitskakeling of selfs verkorting van voedingslaagtepunte sal veeproduksie aansienlik verhoog en kan die lonendheid van die hele onderneming verbeter.

Aanbevole bestuurspraktyke

Tradisioneel word ’n wye reeks bestuurspraktyke in die Oos-Kaap toegepas om wintervoedingslaagtepunte te oorbrug. Dié praktyke behels onder andere:

  • Veldbestuur: Dit kan onder andere veegetalle, skaap-tot-beesverhouding, wisselweidingstelsels, voldoende rus en die brand van veld behels.
  • Aanvulling en byvoeding: Dit sluit in kommersiële en selfgemengde lekke, lusernhooi, kuilvoer, staandehooi en die behandeling van lae gehalte ruvoere met onder andere bytsoda of ammoniak.
  • Aangeplante weidings: Tradisioneel word verskillende weidings op droëland en besproeiing as winterweiding aanbeveel.

Tabel 1: Weidings wat as winterweiding aanbeveel word.

Droëland Besproeiing
Hawer Hawer
Stoelrog Rog
Wieke Eenjarige raaigras
Serradella Meerjarige raaigras
Korog Kropaargras
Japannese radys Swenkgras
Assegaaiklawer Klawers

 

Soos uit bostaande gesien kan word, is die oorwintering van vee in die suurvelddele van die Oos-Kaap ’n koste-intensiewe proses.

Meerjarige peulplantweidings

In 2007 het die Dohne Landbounavorsingsinstituut (LNI) in samewerking met die Landbounavorsingsraad (LNR) en die Australiese Sentrum vir Internasionale Landbounavorsing (ACIAR) ’n projek bekendgestel waardeur hulle wou vasstel of dit moontlik is om meerjarige peulplantweidings met ’n lae inset, geenbewerking-tegniek op ou lande in die Oos-Kaap te vestig. Die idee was om vee, veral skape, op die weiding te laat oorwinter.

Die projek is nou afgehandel en die rolspelers weet waar dit sal werk in die Oos-Kaap, hoe om dit te vestig, watter peulplante werk en rofweg wat die volhoubare weikapasiteit van die weidings is.

Lewendehawe aan die einde van die weidingsiklus in September 2011.

In die Oos-Kaap, wat hoofsaaklik uit ’n somerreënvalgebied bestaan, is die tegniek suksesvol waar die gemiddelde jaarlikse reënval minstens 650mm en die neerslag tussen Maart en Augustus minstens 200mm is. Dit moet ook nie voor 1 April ryp nie en die gemiddelde maandelikse maksimum temperatuur moenie 29°C oorskry nie.

’n Algemene praktiese reël wat toegepas kan word, is dat as daar wattelbome in die omgewing groei en ’n kans bestaan dat ’n mens moontlik sneeu in die wintermaande sal kry, sal die klimaat geskik vir die weiding wees.

Vestiging van weiding

In die hoërliggende kouer dele is die beste tyd om te plant van middel Februarie tot middel Maart, terwyl begin tot einde Maart die beste planttyd vir die warmer dele is. Om die land voor te berei vir plant is dit nodig om die bestaande grasse so kort as moontlik af te wei. ’n Somerlek is nogal handig om dit reg te kry. ’n Ander opsie is om die land in die lente te brand en dan in die somermaande so kort as moontlik te laat wei.

Diere op peulplantweiding gedurende die 2016-winterseisoen (Dohne LNI).
Dieselfde aanplanting by Tsolo in Oktober 2016.

Vestiging word met ’n geenbewerking-fynsaadplanter gedoen teen ’n plantdigtheid van sowat 40kg saad per hektaar. Hierdie hoë saaidigtheid is noodsaaklik, aangesien die saailinge met die bestaande plantegroei moet meeding om vog en voedingstowwe. Die mengsels soos vervat in Tabel 2 word aanbeveel.

Tabel 2: Aanbevole spesies vir die verskillende gebiede.

Eenjariges Meerjarige peulplante
Koeler hoërliggende dele Roosklawer

Assegaaiklawer

Biserulla

Seradella

Geelblomlusern

Lespedeza / Armmanslusern

Witklawer

Lusern

Warmer gebiede Medics

Seradella

Biserulla

Lusern

Lespedeza

Witklawer

 

Afhangende van die omgewing en seisoen, kan ’n mens sowat 600 tot 750 skaapweidae per hektaar in die wintertydperk verwag. Op ’n praktiese vlak beteken dit dat die weiding van Junie tot September vyf skape per hektaar kan dra.

Sodra die eerste somerreën geval het, word alle vee onttrek en die weidings word kans gegee om saad te skiet. Daarna kan teen einde Januarie hooi daarvan gemaak word, maar van middel Februarie tot middel Maart op die laatste, moet die weiding weer gerus word sodat genoeg voerreserwes vir die wintermaande kan opbou.

Prestasie van diere

’n Opsomming van twee jaar se proefresultate van dr Neels de Ridder, waar gespeende Dohne Merinolammers op die peulplantweiding by die Dohne Landbounavorsingsinstituut oorwinter is, word in Tabel 3 aangetoon.

Die beweiding het begin Junie ’n aanvang geneem. Die kontrolegroep diere het op spaarveld geloop met ’n ad lib-winterlek. Dis duidelik dat die diere op die peulplantweidings teen die aanbevole belading die kontrolegroep in elke opsig klop.

’n Ideale stand naby Tsolo net ná vestiging in Maart 2012.

Hierdie data vergelyk ook goed met Van Heerden (1981) se data, wat vier verskillende groenvoere oor ’n tydperk van vier jaar by die Kleingraaninstituut met mekaar vergelyk het. Oor ’n weiperiode van 90 dae het Van Heerden (1981) ’n gemiddelde daaglikse toename (GDT) van 188g per dier per dag, ’n gewigstoename van 16,8kg per dier en 2 307 skaapweidae gemiddeld vir die vier groenvoerweidings gekry, teenoor die peulplantweiding se 119 dae weiperiode, 105g per dier per dag, ’n gewigstoename van 13,1kg per dier en 595 skaapweidae.

Tabel 3: Groeiprestasie van Dohne Merinolammers op laekoste-peulplantweidings.

Behandeling Belading Gewigstoename Weidae Skaapweidae per hektaar
Ha/GVE Ha/skaap GDT Kg/dier Kg/ha
Kontrole:

Veld en lek

2,0 0,33 30 3,8 11,3 119 360
Peulplantweidings 1,2 0,20 105 13,1 65,5 119 595
Groenvoer 188 16,8 90 2 300

 

Vergelyking van koste

Aangesien die peulplantweidings meerjarig (die eerste plaasskaal-aanplantings is al sewe jaar oud) en groenvoerweiding eenjarig is, is ’n direkte vergelyking van koste moeilik. As die vestigingskoste van die peulplantweiding oor ’n tydperk van sewe jaar afgeskryf word, kos dit ongeveer R1,40 per dag om ’n skaap te oorwinter in vergelyking met R1,75 per dag om ’n skaap op groenvoer te oorwinter vir prakties gesproke dieselfde prestasie per dier.

Nog ’n voordeel van die peulplantweidings is die hooi wat in die somermaande gemaak kan word. Die kontrolebehandeling van spaarveld met lek kos ook ongeveer R1,70 per dag per skaap.

Die proefresultate lyk baie belowend, maar die saad is duur en ’n droogte in of kort ná planttyd kan ernstige gevolge hê. Daarom word aanbeveel dat boere eerder geleidelik na die stelsel oorskakel as om dalk baie duur skoolgeld te betaal as iets verkeerd loop. Na ons mening is die grootste voordeel van die stelsel dat ou lande weer in produktiewe lande oorgeskakel word, met al die voordele wat dit inhou. – Gideon Jordaan en dr Neels de Ridder

Vir meer inligting, kontak Gideon Jordaan by 082 927 6779 of epos gideon.jordaan@drdar.gov.za, en dr Neels de Ridder by 082 821 6995 of epos cornelius.deridder@drdar.gov.za.

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY