’n Alleras bul- en kleinveeveiling word @ ALFA 2017 as ’n stilveiling oor twee dae aangebied. Die veiling, wat deur BKB aangebied word, vorm deel van ALFA 2017, wat van 12 tot 14 September by die Afridome in Parys plaasvind.

Klik hier vir alles wat jy moet weet oor #ALFA2017

 Wie is die koper waarop gefokus word?

Met die ewolusie van veilings van die ou nasionale ram- en bulveilings in Bloemfontein tot die produksieveilings van vandag, het dit toenemend moeiliker vir kommersiële boere geword om ’n geregistreerde bul op ’n produksieveiling te koop, aangesien die fokus op stoettelers is. Dit is ook moeilik vir ’n boer wat meer as een ras in ’n kruisteeltprogram gebruik om bulle van meer as een ras te koop, want elke produksieveiling fokus op ’n bepaalde ras.

Op hierdie veiling is die fokus 100% op die behoeftes van die kommersiële vleisprodusent (beeste en kleinvee) wat toegang tot top-genetika (geregistreerde diere) van verskillende rasse teen billike pryse wil hê.

Hoe waarborg die veiling hoë gehalte diere?

Alle diere word deur die betrokke genootskap gekeur om seker te maak die diere voldoen aan die vereistes van die betrokke ras. Omdat die genootskap verstaan wie die potensiële koper is, maak hulle seker dat diere wat aan die behoeftes van die kommersiële vleisprodusent voldoen, deel van hul aanbod uitmaak. Geen teler kan ’n dier direk op die veiling plaas sonder dat ’n genootskap sy betrokkenheid goedkeur nie. Dit beteken die diere voldoen 100% aan die rasstandaarde en het prestasiesyfers wat vir evaluering beskikbaar is.

Hoekom ’n stilveiling?

’n Stilveiling is ideaal waar baie diere van verskillende rasse aangebied word. Dit verminder ook die druk vir iemand wat rustig sy bod wil oorweeg, wat moeilik sou wees by ’n ringveiling.

Wat is die reserwepryse van die diere?

Alle diere het standaard-reserwepryse van maksimum R30 000 per bul vir enige ras, R5 000 per ram en R2 000 per vroulike dier, beide van enige kleinveeras. Slegs die Wagyu’s sal hul eie reserwepryse bepaal. Dit verseker dat alle diere binne die prysverwagtinge van kopers én verkopers sal wees.

Sal ek genoeg tyd hê om die diere te besigtig?

Al die diere word van Dinsdag 12 September @ ALFA 2017 saam met die betrokke genootskappe uitgestal. Potensiële kopers kan dus die diere besigtig, met die telers praat en met die genootskap praat. Dit gee belangstellendes genoeg tyd om alles uit te vind wat hulle wil weet om ’n ingeligte besluit te kan neem.

Wanneer begin en eindig die veiling?

Die veiling open op Woensdag 13 September om 08:00 en die bieëry sluit Donderdagmiddag 14 September om 14:00. Dit gee kopers dus 30 ure om rustig te besluit waarop hulle wil bie en raad te vra by enige party.

Hoe werk die veiling?

BKB ontwikkel ’n digitale platform waarop die stilveiling aangebied sal word. Potensiële kopers sal die geleentheid kry om via ’n digitale registrasieproses te registreer om deel te neem. Slegs geregistreerde kopers kan bie. ’n Volledige profiel van elke dier sal op die digitale platform gelaai word vir potensiële kopers om na te kyk.

Kopers kan van Woensdagoggend 08:00 af op die digitale platform bie. Die veiling eindig 30 ure later, op Donderdagmiddag 14 September om 14:00. Kopers kan via ’n webblad bie en die hoogste bod sal op ’n groot skerm vertoon word (by die uitstalling, maar ook op die webblad). Die inligting sal gereeld aangepas word om kopers op hoogte te hou van die hoogste bod.

Die sluiting van elke lot sal vooraf bepaal en ná registrasie aan kopers gekommunikeer word. Wanneer die hamer op ’n lot val, kry die vorige bod op elke dier twee minute om die hoogste bod te oortref. Indien ’n hoër bod nie binne die twee minute geregistreer word nie, word die bod toegeslaan.

Wanneer ’n hoër bod wel binne die spertyd van twee minute geregistreer word, het die persoon wat die vorige bod ingesit het, weer twee minute. Die proses hou aan tot een bieër die spertyd van twee minute laat verstryk sonder om ’n hoër bod te registreer, waarna die bod dan toegeslaan word.

Wanneer kan ek my aangekoopte diere verwyder?

Verder werk die veiling net soos ’n gewone veiling en diere kan verwyder word sodra betaalreëlings met die afslaers getref is. Dit moet op Vrydag 15 September tussen 08:00 en 14:00 geskied.

Watter rasse neem deel?

Bevestiging is reeds van die volgende beesrasse ontvang: Afrikaner, Angus, Beefmaster, Bonsmara, Braford, Brahman, Brangus, Braunvieh, Charolais, Drakensberger, Hugenoot, Limousin, Santa Gertrudis, Senepol, Simbra en Simmentaler. Al die kleinveerasse word ook verteenwoordig.

Vir meer inligting, kontak Albert Loubser by 082 562 2188 of albert@veeplaas.co.za.

Skandeer die QR-kode vir meer inligting en om die veiling te volg.

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY