AgriTendense bevorder strategiese besluitneming

By die bekendstelling van die September 2023 Absa AgriTendense tydens Nampo Kaap in Bredasdorp was (van links) Adri Esterhuyse, Zama Sangweni, Hamlet Hlomendlini, Marlene Louw en Abri Rautenbach, almal van Absa AgriBesigheid.

Estimated reading time: 4 minutes

Die September 2023 Absa AgriTendense is tydens Nampo Kaap in Bredasdorp bekendgestel. AgriTendense word elke ses maande saamgestel en word tans wyd in die landbou vir vooruitbeplanning gebruik.

Dr Marlene Louw, ’n senior landbou-ekonoom by Absa Agribesigheid, het tydens die bekendstelling gesê AgriTendense is nie ’n kristalbal nie, maar is eerder daar om gesprekke tussen die verskillende rolspelers in die landbouwaardeketting te prikkel.

Dr Marlene Louw, senior landbou-ekonoom van Absa AgriBesigheid.
Dr Marlene Louw, senior landbou-ekonoom by Absa AgriBesigheid.

“Met AgriTendense deel Absa Agribesigheid sy siening oor wat in die volgende paar maande in die mark kan gebeur. Met die terugvoer van ander rolspelers, kan die inligting en intelligensie uit verskillende oorde gebruik word om besluitneming te bevorder en vennootskappe tot stand te bring,” het Louw gesê.

Lees meer oor Absa se aandele in Khula! hier.

Tref voorsorg met goeie beplanning

Abri Rautenbach, hoof van Absa AgriBesigheid, het gesê die afgelope paar jaar se uitdagende toestande in die landbousektor het gewys dat produsente wat aanhoudend beplan en herbeplan, daardie is wat reg voorberei is vir feitlik enige gebeurlikhede wat oor hulle pad kom.

Abri Rautenbach, hoof van Absa AgriBesigheid.
Abri Rautenbach, hoof van Absa AgriBesigheid.

“Dit is belangrik dat boere betyds en gereeld met hul finansierder praat om as ’n span voorbereid te wees vir hierdie gebeurlikhede. Absa se AgriTendense is een van die hulpmiddels wat boere kan gebruik om hierdie beplanning te doen,” het Rautenbach gesê.

Beurtkrag en infrastruktuur knou landbou

Louw het gesê met die saamstel van die September 2023 AgriTendense het hulle gekyk na die invloed van beurtkrag op die verskillende landboubedrywe, die invloed van infrastruktuur (pad, spoor en hawens) op hoë-waarde uitvoerprodukte, en hoe geopolitieke kwessies oor die volgende paar jaar die markte kan dryf.

“Ons het gesien dat beurtkrag ’n beduidende invloed op die rooivleisbedryf het, spesifiek op rooivleisverbruik, sowel as op die groentebedryf waar dit meer ’n aanbod-effek gehad het.”

Infrastruktuur, en veral ons hawens, is krities om die verskillende bedrywe te ondersteun en te bevorder. “Ons het in 2022 gesien dat infrastruktuur, en veral die doeltreffende werking van ons hawens, krities is om ons uitvoermededingendheid te behou.”

Hoë groentepryse dryf voedselinflasie

Louw het gesê vleis, grane en oliesade het die afgelope paar jaar die opwaartse tendens in voedselinflasie gedryf. Rooivleispryse het egter sedert die begin van die jaar begin afneem. Hoewel beurtkrag ’n invloed op rooivleisverbruik het, kan die laer rooivleispryse toegeskryf word aan verbruikers wat onder druk is weens hoë lewenskoste, brandstofpryse en rentekoerse. Hierdie faktore het tot gevolg dat verbruikers wegbeweeg van luukse produkte soos rooivleis.

“Groentepryse het die afgelope vyf tot sewe maande beduidend gestyg weens beurtkrag en hoë insetkoste, wat tot laer groenteproduksie gelei het. Produsente plant minder groente om die risiko van beurtkrag en besproeiing te probeer bestuur. Insetkoste, wat in 2022 baie verhoog het en die marges in die groentebedryf onder druk plaas, het ook tot laer groenteproduksie in 2023 gelei,” het sy gesê.

Chinese markverwagtinge realiseer nie

Louw het gesê almal het aan die begin van die jaar gehoop dat China weer die wêreld-ekonomie aan die gang sal sit en ook ’n groot vraag sal skep na ons uitvoerprodukte soos makadamias, sitrus en tafeldruiwe, waarvan ons redelike volumes na China uitvoer.

“Makro-ekonomiese data asook intelligensie wat ons uit die mark kry, wys egter dat die Chinese ekonomie onder druk is en dat dié mark nie volgens verwagtinge presteer nie. Dit het meegebring dat baie van ons uitvoerprodukte se pryse onder druk gebly het, ten spyte van die feit dat China nie meer inperkings gehad het nie. China is dus nie die silver bullet waarop die res van die wêreld gewag het nie,” het sy gesê.

China bly ’n groot mark wat in stand gehou moet word, maar die plaaslike uitvoerbedrywe moet ook hul horisonne verbreed en begin fokus op nuwe, ontwikkelende markte en daardie marke ontwikkel.

“Indië is byvoorbeeld ’n baie belangrike mark. Baie van ons uitvoervrugte gaan daarheen, maar teen ’n invoertarief van ongeveer 30%. Daar is besliste vooruitsigte as die tarief afgebring kan word en ons dié mark vir ons uitvoerprodukte kan uitbrei,” het Louw gesê. – Hugo Lochner, Plaas Media