Estimated reading time: 4 minutes
Produsente in Noordwes staar talle uitdagings soos grondbesettings en swak padinfrastruktuur in die gesig, maar die stryd is nie verlore nie. Dít is die duidelike boodskap van Boeta du Toit, Agri Noordwes (Agri NW) se uitvoerende hoof, wie steeds hoopvol oor landbou in die provinsie is.
Hy glo in produsente se vermoë om moed te hou en voort te produseer ondanks verskeie uitdagings. In die lig hiervan gee Du Toit sy versekering dat Agri NW, ten opsigte van ernstige knelpunte wat die volhoubaarheid van landbou bedreig, nie op sy louere rus nie. Die situasie rondom grondbesettings wat al hoe meer in Noordwes kop uitsteek, asook swak padinfrastruktuur, word met erns aangespreek.
Grondbesettings ’n reusebedreiging vir landbou
Du Toit sê grondbesettings neem verskeie vorme in Noordwes aan en hou ’n groot bedreiging vir die landboubedryf in. Met ’n onlangse voorval is diere onwettig op weidingsgrond op ’n private plaas gejag en boonop het die polisie nie sy samewerking in dié verband gegee nie. Du Toit skryf dit toe aan onder meer die polisie se onwilligheid en onvermoë ten opsigte van die korrekte vertolking van wetgewing.
Die instruksie aan die polisie in terme van grondbesettings is in sekere opsigte foutief, en veroorsaak groot probleme vir boere wanneer wetgewing dan verkeerd deur die polisie vertolk en toegepas word. Verskeie vorme van grondbesettings vind oor die provinsie heen plaas, met voorvalle wat onder andere al by Vryburg, Piet Plessis en Tlakgameng plaasgevind het.
Du Toit waarsku boere om ook op hul hoede te wees ten opsigte van grondbesettings waar ’n uitbreiding van mense met verblyfreg op plase onwettige strukture daar oprig, terwyl munisipaliteite neig om dienste aan hulle te lewer. Dit kom veral voor in gebiede by Brits, Rustenburg en Klerksdorp.
Korrekte toepassing van wetgewing
Du Toit sê Agri NW is besig om deur middel van regsaksie te poog dat die Wet op Oortreding, 1959 (Wet 6 van 1959), wat betreding reguleer, korrek en weliswaar toegepas word. Hy glo misdaad van welke aard begin by die onwettige betreding van eiendom, en indien wetgewing korrek toegepas word, kan talle knelpunte op die spits gedryf word.
ʼn Skrywe is reeds aan die minister van polisie, Bheki Cele, in dié verband gerig. Du Toit sê dit is die begin van ’n proses, en indien owerhede dit nie regstel nie, sal regstappe geneem word sodat daar sekerheid is dat die korrekte prosedure in terme van ’n wetlike instruksie gevolg en die wet korrek toegepas word. Sodoende kan ’n polisiebeampte aanspreeklik gehou word vir pligsversuim of selfs regsverydeling en skade wat uit betreding voortspruit.
Lees meer oor hierdie juweel in die Noordwes hier
Swak padinfrastruktuur kniehalter ontwikkeling en volhoubaarheid
Volgens Du Toit is paaie in Noordwes in ’n toestand van verval. “Ons Departement van Openbare Werke en Paaie is al vir ’n geruime tyd onder administrasie, en Agri NW waarsku al lank oor die verval van paaie (provinsiale teerpaaie en veral grondpaaie) in die provinsie.” Weens goeie reën onlangs het hierdie situasie vererger.
“Ons het reeds ’n groot agterstand ten opsigte van die onderhoud van paaie, maar dit het nou dramaties versleg.” Hy meen min resultate word opgelewer ondanks die departement se meesterplan vir paaie en Agri NW se aktiewe betrokkenheid by onderskeie forums en gesprekvoeringe. Lae produktiwiteit, wanbestuur, korrupsie en ongerymdhede met tenders eis steeds sy tol.
’n Meesterplan vir paaie in Noordwes
Die Noordwes Departement van Openbare Werke en Paaie het 14 mega-projekte uit sy meesterplan vir paaie, wat oor tien jaar strek, geïdentifiseer. Luidens ’n verklaring deur die departement sluit dié plan ’n belegging van meer as R1,8 miljard in die distrikte Ngaka Modiri Molema, Dr Kenneth Kaunda, Dr Ruth Segomotsi Mompati en Bojanala in. Sewe van die projekte sluit die opgradering van gruis tot oppervlakte in, terwyl die res spesiaal op instandhouding en rehabilitasie van paaie gerig is.
Volgens die departement word minstens R37,74 miljard oor die volgende tien jaar benodig om die provinsiale padnetwerk se bestaande agterstand ten opsigte van die instandhouding en opgradering van gruis tot teer, te verminder.
Vir meer inligting, kontak Boeta du Toit by dutoitboeta@mweb.co.za of besoek die Noordwes Departement van Openbare Werke en Paaie se webtuiste by www.nwpg.gov.za. – Christal-Lize Muller, AgriOrbit