Sunday, May 28, 2023

Agri Noordwes jongboerwenner glo in Suid-Afrika se toekoms

Estimated reading time: 3 minutes

Die landboubedryf speel ‘n belangrike rol in die Suid-Afrikaanse ekonomie ten opsigte van voedselvoorsiening, handel, werkverskaffing en die ontwikkeling van die platteland. Jongboere kan ‘n reuse-verskil in hierdie verband maak. So meen Gideon van Zyl van Vryburg, Agri Noordwes en Santam Landbou se pas-aangewese jongboer van die jaar. Dié geleentheid het Vrydag, 12 Mei, in Klerksdorp plaasgevind.

Volgens Van Zyl rus daar ‘n groot verantwoordelikheid op die skouers van jongboere, as toekomstige leiers van die land, om hulself toe te rus sodat hulle hul boerderypraktyke en gemeenskappe tot voordeel van die land kan lei. Hy is dit eens dat jongboere die toekomstige bewaarders van natuurlike hulpbronne is, en daarom moet hulle fokus op volhoubare boerderypraktyke.

Van Zyl het ook sy twee mede-finaliste, Mick Carrol van Lichtenburg en Hendrick Reyneke van die Piet Plessis-distrik, bedank vir hulle deelname, harde werk en toewyding. Van Zyl sal Noordwes later vanjaar in Agri SA en Toyota SA Nasionale Jongboer van die Jaar-kompetisie verteenwoordig. Alle hoop is nou op hom gevestig om in sy voorgangers, Sakkie van Zyl en JP van den Berg, wat onderskeidelik in 2014 en 2018 nasionale wenners was, se voetspore te volg.

Lees meer oor die Vrystaat Landbou Jongboer van die Jaar hier.

Die hartklop van Suid-Afrika

Die voorsitter van Agri Noordwes se Jongboerkomitee, Edric Badenhorst, het gesê vanjaar se deelnemers aan dié kompetisie, wat in 2003 sy ontstaan gehad het en sedertdien goed gevestig is en groot aansien in die provinsie geniet, was besonder dinamies en vooruitstrewend. Dit is ‘n goeie aanduiding van die gehalte van die jongboere wat hulself in die landboubedryf gevestig het; dit dui weer op ‘n goeie toekoms vir produksie in die provinsie.

Hy het gesê die jongboerkomitee het verskeie doelstellings en vorm ‘n integrale deel van Agri Noordwes se strukture. Hulle lewer ‘n diens aan jongboere en bied aan hulle ‘n geleentheid om kollektief en gekoördineerd ‘n bydrae te lewer en polsende kwessies en uitdagings in die bedryf aan te spreek. “Die komitee poog ook om die beeld van landbou te verbeter, omdat dié bedryf die hartklop van Suid-Afrika is.”

Daarmee saam fokus die komitee daarop om kinders aan te moedig om by georganiseerde landbou betrokke te raak. Badenhorst is ook trots daarop dat die komitee ook nou betrokke was by die stigting van junior landbouverenigings by landbouskole in die provinsie.

‘n Groot rol om te speel

Die 39-jarige Van Zyl is sedert 2007 ‘n lid van Agri Noordwes en was ook ‘n voormalige voorsitter en vise-voorsitter van die jongboerkomitee. Hy dien ook sedert verlede jaar as vise-president van Agri Noordwes en is al vanaf 2007 lid van Agri Salpeterpan waarvan hy ook sedert 2014 die voorsitter is. Hy is ook lid van die Agri Greater Taung-landbouvereniging en dien sedert 2020 as voorsitter.

Van Zyl boer die afgelope 17 jaar al en het sy eerste stuk grond in 2007 aangekoop. Hy het toe sy eie boerdery bedryf en in 2009 by die Kroon Vee-familieboerdery, waarvan hy ook ‘n trustee is, aangesluit. Sy boerderyvertakkings bestaan onder andere uit ‘n Brahman-stoet, speenkalwers, slagbeeste, wild, gewasproduksie en voerproduksie. Van Zyl se visie is om Kroon Vee as markleier in die Brahman-stoetbedryf te vestig en uit te bou sodat ‘n leier in die verskaffing van Brahman-genetika in Afrika kan wees. Van Zyl se prioriteite vir die komende seisoen is om sy bestaande stelsels te verbeter en om sy boerdery se vermoëns te vergroot. – Christal-Lize Muller, Plaas Media

#kykweervrydag Plaas TV 22 – 26 Mei 2023

Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is...

Insubordination: Types and steps to follow

Estimated reading time: 4 minutes Insubordination refers to the defiance of, or resistance to...

Genetiese vordering wat suksesvol versnel word

Estimated reading time: 7 minutes Mari Roets en haar pa, Kobus Delport, bestuur die...

Ensoötiese aborsie by klein herkouers

Estimated reading time: 5 minutes Ensoötiese aborsie is ’n bakteriese siekte wat deur Chlamydia...