Die prestasie van die landbousektor tydens die Covid-19-pandemie onderstreep die waarde van dié bedryf vir Suid-Afrika (SA). Die uitbreking van die virus het alles omgekeer en boere sal moet aanpas om ná die pandemie in ʼn heeltemal nuwe omgewing te woeker.

Jaco Minnaar, ondervoorsitter van Agri SA, het tydens Agri Limpopo se kongres gesê dat in onseker tye soos nou, is dit uiters belangrik om die situasie nie net van die kantlyn af dop te hou nie, maar om aktief op die speelveld deel te neem. Hy het die versekering gee dat Agri SA al die sake wat onsekerheid in die landbou veroorsaak, met ʼn valkoog dophou.

Lees hier meer oor die Agri Limpopo-kongres.

Minnaar het na die grondkwessie en moontlike verandering van die Grondwet verwys, en gesê dit het sommige boere in die harnas ingejaag en ander meer laat uitreik. Die organisasie moes aanpas om almal te huisves.

Agri SA lê nou sterk klem om prestasielone daar te stel om grondhervorming te versnel, soos belastingverligting, kwytskelding van kapitaalwinsbelasting en toegang tot goedkoper befondsing, mits dit ’n wen-wen-uitkoms vir alle partye het en dit volhoubaar gedoen kan word.

Ná ʼn goeie landboujaar met voldoende reën oor groot dele van die land, is die vertroue in die bedryf die hoogste ooit. Dit skep nie net gunstige beleggingsgeleenthede in landbou nie, maar ook geleenthede vir die boere wat hulle nie moet laat verbygaan nie.

Die Covid-19-pandemie het veral die jag- en toerismebedryf in die noorde van die land baie geskaad, wat vinnige beplanning genoodsaak het. Die onluste in KwaZulu-Natal het gewys dit is vir boere en die breër samelewing noodsaaklik om hulself te posisioneer om self vinnig op te tree, en oplossing te vind om te verseker SA bly ʼn vooruitstrewende land.

Piet Engelbrecht, voorsitter van Agri Limpopo, het ook beklemtoon dat die Covid-19-pandemie uitputtend was en dat boere sal moet aanpas by veranderende toestande. Die ontwrigtende gebeure van die afgelope tyd het weer beklemtoon hoe belangrik dit is vir boere om saam te staan en mekaar te ondersteun.

Oor die grondkwessie het Engelbrecht gesê hoe langer die proses uitgerek word, hoe meer tel dit teen die boere. Dit skep voortdurende ekonomiese onsekerheid. Hy het boere aangemoedig om positief te bly. – Andries Gouws, AgriOrbit