AG Bonsmara se praktiese boeredag: Sakke vol wenke vir ernstige beesprodusente

Estimated reading time: 6 minutes

Arthur de Villiers van AG Bonsmaras sê die motivering agter die wyse waarop sy boeredag in Augustus op Arcadia in die Vrede-omgewing aangebied is, was ’n dag waar produsente met produsente gesels. Al die sprekers was self produsente en kon praktiese inligting met medeprodusente deel sonder dat ’n produk noodwendig bemark word.

Wat opvallend van die sprekers was, was dat elkeen ’n unieke aspek van hul eie boerdery bespreek het wat nie noodwendig algemeen toegepas word nie, maar waaruit ander kon leer.

Doelgerigte teling en die voordele

Die eerste spreker was Paul van Niekerk, Bovelder-produsent en tweemalige wenner van die Beesboer van die Jaar-titel. Hy het op die seleksie van ’n funksionele, aangepaste kudde gefokus en veral beklemtoon dat ’n mens met sekere presisieboerdery-beginsels waarde tot ’n kudde kan toevoeg, wat die volhoubaarheid van die boerdery verseker. Doelgerigte teling met koeie wat by jou plaastoestande aangepas is, kan die produktiwiteit van jou kudde merkwaardig verhoog en jou in staat stel om spesifieke doelwitte te bereik.

Hierdie doelwitte sluit funksionele doeltreffendheid, vrugbaarheid, kalwingsgemak, goeie speenmassas, koeidoeltreffendheid, aanpassingsvermoë, raamgrootte, goeie vleisbouvorm, medium tot vroeë geslagsrypheid, afwesigheid van erflike gebreke, goeie temperament en goeie pigmentasie in. Om waarde tot al hierdie aspekte te voeg, moet gehalte bulle, seleksie-intensiteit, goeie bestuur, rekordhouding, teelwaardes, kontantvloeibestuur, hulpbronbestuur en finansiële bestuur as instrumente gebruik word.

Die sprekers tydens die boeredag. Van links staan Frans Odendaal, Stephan Cronjé, Arthur de Villiers, Paul van Niekerk en dr Rikus van Rensburg.

Bestuur van verse

Frans Odendaal van WO Beefmasters, ook ’n voormalige wenner van die Beesboer van die Jaar-titel, het op sy beurt die beginsel van vroeë paring van verse bespreek, sodat hulle op 24 maande kalf. Hoewel dit nie ’n algemene beginsel in Suid-Afrika is nie, word dit met groot sukses in Australië en Amerika toegepas. Die vroeë dek van verse dien daar as ’n seleksiekriterium vir vrugbaarheid. Om dit egter realisties te doen, is moet verse aan sekere kriteria voldoen voordat hulle op 14 maande bul toe gaan. Dit sluit voeding vóór die dekseisoen, die gewig van die vers (65 tot 70% van volwasse gewig), kondisietelling, geslagsrypheid en genetiese variasie in.

Wat die voeding betref, het hy beklemtoon dat dit belangrik is om die diere se voedingsbehoeftes duidelik teen die beskikbare natuurlike hulpbronne af te speel en tekorte dan doelmatig met lekke aan te vul. Die mikpunt op hulle plaas is dat verse gedurende die winter rondom 150g/dag en gedurende die somer 500g/dag moet groei. Wanneer hulle dan by die bul kom is hulle nie oorvet nie en het ’n liggaamskondisietelling van 2,5. Al die verse se bekkens word gemeet om seker te maak dat die konformasie van so ’n aard is, dat hulle sal kan kalf.

Bulseleksie vir hierdie jong verse is baie belangrik – die kriteria sluit ’n teelwaarde vir kalwingsgemak, asook ’n fyner beenstruktuur, in. Wat bestuur betref, het hy die belangrikheid van die nodige mineraal- en vitamienaanvullings beklemtoon. Die verse moet ook vry van parasiete wees en hul inentings moet op datum wees. Verse moet in kleiner kampe met genoeg bulle aangehou word sodat ’n vers wat op hitte kom, onmiddellik gedek kan word. Weidingsbestuur is gedurende dektyd uiters belangrik. Die verse moet gereeld geskuif word sodat hulle voortdurend toegang tot die beste beskikbare weiding het.

Dit is verder belangrik om die verskillende jong versgroepe apart te bestuur – eerstekalfverse, tweedekalfkoeie en derdekalfkoeie moet almal in aparte groepe bestuur word. Hulle moet in daardie volgorde ook die beste voer op die plaas kry.

Speengewigte en inentingsprogramme

Dr Rikus van Rensburg, ’n veearts op Frankfort, het ná Odendaal gesels oor die minimum gesondheidsinsette wat elke veeprodusent moet insit om die gesondheid van sy kudde te bevorder. Hy het begin met die vraag oor waar speenkalfprodusente die meeste geld in hul boerderye verloor. Die antwoord is kalwers wat laat gebore word, omdat dit ’n oorspoeleffek op speengewigte het. Laatgebore speenkalwers is ligte speenkalwers, het hy gesê.

Verder het hy daarop gewys dat produsente bewus moet wees van siektesiklusse wat van tyd tot tyd ernstige implikasies kan hê. Afgesien hiervan is daar sekere bestuurspraktyke waarby produsente nie verby kan kom nie. Dit sluit ’n inentingsprogram teen klostridiale siektes, insekoorgedraagde siektes, bosluisoorgedraagde siektes en geslagsiektes in. Hy het die bestuur van slakke – beide lewerslak en peervormige maagslak – beklemtoon.

  • Die verskillende troppe beeste wat teenwoordiges kon besigtig nadat al die toesprake afgehandel was.

Lekke en ander boerderywenke

Stephan Cronjé, De Villiers se stiefseun, het die belangrikheid van die regte lek vir die regte funksie bespreek en die drie fases van lekke beklemtoon: ‘n winterlek met die doel om rumenmikrobes aktief te hou; somerlekke vir die aanvulling van fosfaat in balans met ander noodsaaklike minerale; en produksielekke vir diere wat ’n groter behoefte het, soos lakterende koeie.

De Villiers se eie praatjie het op teelwaardes en katalogusinligting gefokus. Daarna het hy ’n klompie wenke gegee oor praktyke wat op Arcadia werk. Hierdie wenke en boerderypraktyke is gebaseer op sy doelwit om met so min as moontlik moeite en stres te boer:

  • Hy laat sy bulle feitlik regdeur die jaar by die koeie bly, maar selekteer dan slegs vervangingsdiere uit die groep wat binne die eerste 42 dae kalf.
  • Hy haal sy bulle ongeveer 60 dae voor die volgende dekseisoen uit.
  • Hy het opgehou om kalwers te speen want die koeie speen self hul kalwers op die regte tyd, as hulle weer dragtig is. Dit skakel speenstres heeltemal uit en kalwers bly in ’n groeifase sonder om gewig te verloor. Die koei moet egter weer dragtig wees voordat hierdie praktyk toegepas kan word.
  • Hy het beklemtoon dat hy slegs geregistreerde lekke met ’n V-nommer gebruik, omdat dit ’n mate van ’n waarborg bied.
  • Wanneer ‘n mens kliëntemengsels gebruik, impliseer dit totale vertroue in jou voerverskaffer.
  • Hy verkoop sy speenkalwers vanaf middel November tot einde Desember as long weaners.
  • Pasop vir bure wat vreemde diere in die omgewing inbring, want jy weet nie watter biosekuriteitsprotokolle hulle gevolg het nie. Daarom het hy ’n dubbele heining op al sy plaasgrense gespan.
  • Biosekuriteit is soveel beter as die hele omgewing saamwerk.
  • Diversifiseer waar moontlik om inkomste te versprei. In hulle geval het hulle vakansie-akkommodasie op die plaas beskikbaar gestel, wat ’n beduidende ekstra inkomste genereer.
  • Ondersoek die moontlikheid om self by skakels in die waardeketting betrokke te raak, soos eie verpakking en bemarking van produkte.
  • Om tussen die beeste rond te ry, betaal altyd.
  • Hou dieselfde soorte diere in groepe bymekaar.
  • Hoewel donkerrooi meer gewild is, is ligterooi beter wat hitteweerstand betref.
  • Hy het ’n nuwe bloedlyn begin deur Wagyu-genetika te gebruik.
  • Hy het sy vleie verbeter deur verskillende grasspesies in te saai.
  • Ter voorbereiding van El Niño sal dit verstandig wees om marginale lande met dekgewasmengsels te vestig.
  • Moenie wag om bome te plant nie.
  • Leer jou veewagters waarna om te kyk wanneer hulle daagliks deur die troppe ry – water, lekke, gesondheid en mis. Bestudeer jou diere se mis, want dit vertel jou amper alles wat jy wil weet.

Na die teoretiese deel van die dag is almal op vragmotors gelaai en op ’n roete geneem waar verskillende troppe beeste besigtig is, terwyl Arthur verskillende aspekte toegelig het. – Izak Hofmeyr, Plaas Media

Related

Stockman School 2026: Breeding better beef, from DNA to dinner plate

The second session on day two of the 2026 LRF Stockman School kicked off with a presentation on breeding better beef. Charné Claassen, division...

Foetal programming to BREEDPLAN: A jampacked second day at Stockman School

The second day of the Livestock Registering Federation’s (LRF) Stockman School at Aldam in the Free State kicked off with a session sponsored by...

Fluitrotte: ’n Probleem wat sy pad in die Kalahari oopknaag

Estimated reading time: 4 minutesFluitrotte is weer besig om die Kalahari van ‘n kant af op te vreet. Die afgelope jaar het die Noord-Kaap...