Van links is Albert Loubser, redakteur van Veeplaas, Henco Pool, Christo Kemp, Hertie Lerm, JP Marais en Appie Maritz.

Die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie sal in 2018 vir die vyfde agtereenvolgende jaar gehou word. Die kompetisie het ten doel om die lewendehawe-afslaersberoep te bevorder en is in 2014 vir die eerste keer deur die landboutydskrifte, Veeplaas en Stockfarm, aangebied.

Die 2018 weergawe van die kompetisie het reeds afgeskop met die Wes-Kaap streeksrondte wat tydens die onlangse Agri-Expo Livestock gehou is. Dit is die eerste in ’n reeks streeksrondtes wat ter voorbereiding van die nasionale rondte by ALFA 2018 gehou sal word. Na ’n uiters suksesvolle kompetisie die afgelope vier jaar, gaan die Veeplaas-span in 2018 weer die land fynkam vir die beste jong- en skolier-afslaers. Hou www.agriorbit.com dop vir meer inligting oor hierdie streeksrondtes.

Deelnemers word in jong (19-30) en junior (skoolgaande) kategorieë beoordeel volgens hulle vertoning op die rostrum, veekennis en bedryfskennis. Altesaam vier deelnemers het hulle staal op die rostrum gewys tydens die Wes-Kaap streeksrondte. Die deelnemers is deur Appie Maritz van BKB beoordeel, wie hulle ook met raad bygestaan het.

Oliver Vigne in aksie op die rostrum.

In die junior-kategorie dring Henco Pool deur na die nasionale rondte. ’n Vorige wenner in die junior-kategorie, Hertie Lerm, was mans genoeg om in die jong-kategorie deel te neem, al is hy nog van skoolgaande ourderdom. In dié kategorie behaal JP Marais die eersteplek, Hertie Lerm die tweedeplek en Christo Kemp die derdeplek.

Danie Strauss, ’n vorige streekswenner, het ook ’n voorbeeldrondte op die rostrum gedoen, terwyl Hans Burger van Voermol en die jongeling, Oliver Vigne, die uitdaging ook vir die pret aangepak het. – Marike Brits, Veeplaas

Hou die hutsmerk #youngauctioneers op Veeplaas se Facebook-blad en die Twitter-profiel, @onderdiehamer, dop om op hoogte van die kompetisie te bly.

Sien die deelnemers in aksie:

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY