Estimated reading time: 4 minutes
- Brommers wat skape aanval, vreet die diere feitlik lewend op.
- Groenbrommers is die grootste probleem op wolskaapplase en is verantwoordelik vir 90% van die aanvalle.
- In feitlik alle gevalle is vog in die skape se wol (vagvrot) die lokmiddel wat die aanvalle voorafgaan.
- Brommeraanvalle kan met goeie bestuurspraktyke beperk word, en ‘n bestuursplan moet gebou word rondom die lamseisoen, skeertyd en seisoene.
- Die beheer van skaapbrommers in Suid-Afrika kan grootliks met brommerlokvalle asook plaagdoders voorkom word.
Brommers wat skape aanval, vreet die diere feitlik lewend op. Brommeraanvalle is voorkombaar en alles moontlik moet gedoen word om te keer dat oop wonde ontstaan.
Ooie en lammers is meestal die slagoffers. Groenbrommers is die grootste probleem op wolskaapplase en is verantwoordelik vir 90% van die aanvalle. Dié brommer verskil van ander aangesien die grootste gedeelte van hul lewensiklus op lewende skape plaasvind, terwyl die meeste ander brommers se lewensiklus op of naby ’n karkas plaasvind.
Hoe brommers te werk gaan
Brommeraanvalle kom gewoonlik in die nat, warm tye van die jaar voor en kan beduidende skade aanrig. Die volwasse brommerwyfies benodig proteïen om eiers te kan lê. Sy kry dit gewoonlik van mis, ’n karkas en die nektar van sekere plante. Hulle kan tot 200 eiers op ’n slag lê. Die volwasse wyfie kan tot ’n maand lank leef en twee tot drie keer in dié tyd eiers lê.
In feitlik alle gevalle is vog in die skape se wol (vagvrot) die lokmiddel wat die aanvalle voorafgaan. Die aanvalle vind gewoonlik in die broekgedeelte, rondom die anus en geslagsdele van ooie, en in ’n mindere mate op ander dele van die liggaam, plaas.
By ramme kan die aanval ook om die horingbasis voorkom. Skeer- en ander wonde, vrotpootjie en oë wat traan kan ook brommers lok. Die maaiers broei daar uit en begin vreet. Die maaiers produseer ook ammoniak wat giftig is vir die dier. Aangetaste skape is lusteloos, hou op vreet, raak koorsig, kry sekondêre bakteriese infeksies en as diere nie behandel word nie, vrek hulle gewoonlik.
Lees meer oor neusvlieg.
’n Bose kringloop
Vagvrot ontwikkel maklik wanneer ’n skaap se wol tot op die vel nat geword het. Dit veroorsaak ’n inflammatoriese reaksie op die vel en serum word afgeskei wat brommers lok. Die bose kringloop begin dan wanneer die brommer eiers op die skaap begin lê.
Klontwol, ’n toestand wat deur ’n bakterie in die vel veroorsaak word, skep ook ’n gunstige omgewing vir die brommer om haar eiers te lê. Die maaiers broei in die klontwol uit, voed en dring dieper in die vel in. Wol wat met urine of loperige mis besmet is, lok ook brommers.
Skaapbrommers is metaalkleurig en behoort aan die genera, Lucilia en Chrysomyia, en hulle kom oral in Suid-Afrika voor. Die brommer L. cuprina (groenbrommer) is verantwoordelik vir sowat 90% van die aanvalle op lewende diere, terwyl C. chloropyga waarskynlik die oorblywende 10% aanvalle loods.
Goeie bestuur
Brommeraanvalle kan met goeie bestuurspraktyke beperk word, en ‘n bestuursplan moet gebou word rondom die lamseisoen, skeertyd en seisoene (reënval en temperatuur). Hier is ‘n paar bestuurswenke:
- Selekteer vir skape met minder plooie wat nie spits agterstewes, hoë los skouers of duiwelgreep agter die blaaie het nie.
- Skeer en mikskeer veral ooie strategies sodat hulle tydens die lente, somer en herfs asook met lamtyd kort wol in hul broekgedeelte het.
- Wanneer ooie gemikskeer word, kan die dele rondom ramme se horings, en ramme en hamels se peesters ook geskeer word indien brommeraanvalle op hierdie gedeeltes voorkom.
Die beheer van skaapbrommers in Suid-Afrika kan grootliks met brommerlokvalle asook plaagdoders voorkom word. Die gebruik van chemiese middels kan die aantal aanvalle in ’n trop skape beperk. Die gebruik van gifstowwe moet heeltemal vermy word in die drie maande voor geskeer word, behalwe vir noodbehandeling van individuele skape.
Behandeling van besmette skape neem baie tyd en arbeid in beslag, en voorkomende beheer is nodig. ‘n Besmette skaap is boonop ‘n welsynsprobleem. Skape kan met geregistreerde chemiese middels gedip word wat die maaiers kan doodmaak en bosluise beheer. In sekere streke het brommers al weerstand begin opbou teen van die aktiewe bestanddele in dipmiddels.
Daar is ‘n enkele inspuitbare endektosied geregistreer vir die behandeling van brommeraanvalle. Die middel werk via die bloed en dood alle larwes wat op bloedkomponente voed. Dit word in sommige gevalle ook gebruik vir korttermyn voorkoming en die beheer van rondewurms om maagwerk te voorkom.
Vra ’n veearts om jou te help met die opstel van ’n program. Vir meer inligting, kontak dok Danie Odendaal by vnet1@absamail.co.za. – Andries Gouws, Veeplaas