Estimated reading time: 3 minutes
’n Franse verkennerskorps is tans op besoek in Suid-Afrika om die moontlikheid van ’n landbou-studietoer oor Desember te ondersoek.
Dit sal die tweede studietoer wees wat die Franse koöperasie, Terrena, in Suid-Afrika aflê. Die drie verkenners en hul tolk het Maandag in Suid-Afrika geland en dadelik besoek by Afgri se Bronkhorstspruit-silo’s en twee plase in die omgewing afgelê.
Jan de Sousa, algemene bestuurder van Afgri Grain Management, het die buitelanders meer vertel oor dié graanopberger se 69 silostrukture en 22 graanbunkers wat gesamentlik 5 miljoen ton graan kan berg. Dié graan sluit mielies (wit en geel), koring, sorghum, sojabone, sonneblomsaad en ingevoerde graan in.
Lees meer oor EMC2 se besoek aan AFGRI se Bronkhorstspruit-silo’s hier.
Ooreenkomste
“Omdat ons in die Noordelike Halfrond boer, is dit baie interessant om te sien wat in ander wêreldstreke aangaan in lande met landbousektore wat ten minste op ons eie vlak van ontwikkeling is,” sê Dominique Grasset (49), ’n raadslid van die Franse koöperasie, Terrena. Hulle het spesifiek besluit om Suid-Afrika te besoek omdat die twee lande heelwat soortgelyke produkte, soos graan, wyn en suiwel produseer. Daarom glo hulle dat hulle heelwat aan die suidpunt van Afrika kan leer.
Die produsente wat die studietoer sal meemaak sal uiteenlopende belangstellings hê, maar Grasset glo dit sal vir almal interessant wees om meer te leer oor hoe Suid-Afrika sake soos versekering, logistiek en naspeurbaarheid benader. “Dis veral verrykend om te sien hoe ander mense oplossings vir probleme vind. Dit kan ons weer help om ons stelsels by die huis te verbeter,” sê Grasset.
Verskille
Die twee lande se ekonomiese strukture verskil egter soos dag en nag en Grasset sê dié verskille is ook fassinerend vir die Franse produsente. Terwyl Suid-Afrika sedert die vroeë negentigs ’n vryemark-ekonomie het, is die Franse landboumodel steeds hewig aan markregulering onderworpe.
Wessel Lemmer, algemene bestuurder van Agbiz Grain, het die Franse op Bronkhorstspruit ontmoet en sê dié interaksie het hom opnuut waardering vir die Suid-Afrikaanse markmodel gegee. “Ons moet die vryemark koester, want dit is ons beste bondgenoot. Dis interessant om te sien hoe buitelanders van heinde en ver reis om meer oor ons besonderse landbousektor te leer.”
Lemmer sê dis iets wat ’n mens daaraan moet herinner dat die instellings, wat Suid-Afrika se vryemark in die graan- en oliesaadbedrywe in stand hou, in terme van befondsing, oorsig en deelname nie gebrek moet ly nie. – Susan Marais, AgriOrbit