Estimated reading time: 6 minutes
Varkvoeding het oor die laaste tien jaar vinnig ontwikkel en hoe meer navorsing beskikbaar raak, hoe beter verstaan voedingkundiges wat nodig is om optimaal in die behoeftes van varke deur hul hele produktiewe lewe te voorsien. Dit is belangrik vir boere om te verstaan dat ‘n vark nie ‘n asblik is nie en dat varkvoeding ‘n fyn wetenskap behels.
Die jongste benadering is dat die varkvoeding begin wanneer die sog dragtig raak en dat dit volgehou moet word totdat die slagvark mark toe gaan. In hierdie tyd wissel die behoeftes van die sog en haar kleintjies voortdurend en moet voeding daarby aangepas word om varke werklik geslaagd te produseer.
WJ Steyn van SwiNE Nutrition Management, sê varke is komplekse diere en wetenskaplikes doen intensiewe navorsing om die diere altyd nog beter te verstaan en te bepaal hoe boere dié diere kan voer ten einde maksimum produksie te kry en na die welstand van die diere deur hul hele produktiewe lewe om te sien.
Mart-Marie van Zyl van Trouw Nutrition sê varkboere selekteer al lank daarvoor om groter werpsels van elke sog te kry. Die bevordering van produktiwiteit het egter tot ander uitdagings gelei soos vrektes rondom jongtyd, groter werpsels van ligter varkies, en dat sôe dikwels nie genoeg melk het om al die varkies groot te maak nie.
Uitdagings in varkproduksie
Wetenskaplikes mik nou daarna om spesifiek oplossings te vind vir die uitdagings wat varksôe en hul kleintjies net voor en ná jongtyd ondervind.
Lees meer oor die fyn bestuur wat varkproduksie verg.
Navorsers het drie stelle uitdagings geïdentifiseer wat met die probleem verband hou, naamlik:
- Pre-jongtyd uitdagings soos suboptimale liggaamsgewig, droë afsterwing (mummifikasie) en lae geboortegewig.
- Lae biesmelkproduksie en doodgebore varkies tydens jongtyd.
- Post-geboorte uitdagings soos lae melkproduksie deur die sog, lae lewenskragtigheid van die varkies en klein varkies wat ná geboorte vrek.
‘n Omvattende strategie is nodig om sôe en die fetusse tydens dragtigheid, en die varkies voor en ná speen, te ondersteun en sodoende die varkies se prestasiepotensiaal deur hul leeftyd te optimaliseer.
Aanvang van intensiewe versorging
Tot so onlangs as vyf jaar gelede is aanvaar dat die intensiewe versorging van varkies eers begin wanneer hulle aankom, maar wetenskaplikes het gou besef dit begin wanneer die sog dragtig raak.
Varkies is vir sowat die helfte van hul leeftyd, vandat die fetus begin ontwikkel tot en met speen, heeltemal van die sog afhanklik. Daarom het die sog en haar voeding so ‘n groot invloed op die prestasiepotensiaal van haar nageslag.
Navorsing toon dat geboortegewig en die inname van biesmelk tydens die eerste twaalf uur ná geboorte, ‘n beduidende invloed het op die prestasiepotensiaal van varke dwarsdeur hul lewe. Dit word deur die sog bepaal en beïnvloed gewigstoename tot met slagtyd, sowel as die reproduksievermoë van die nageslag.
Die lewenskragtigheid van die varkies word deur die jongingsproses bepaal. Hoe meer lewenskragtig die varkies, hoe beter vaar hulle deur hul hele produksiesiklus. Navorsing gaan oor die volgende sowat agt jaar onder meer hierop toegespits word om te verstaan hoe om dié parameters te optimaliseer en te sorg dat meer varkies lewend gebore word, lewenskragtig is, en daar genoeg biesmelk en melk vir die varkies is. Die oogmerk is veral om te verstaan wat boere tydens die dragtigheidstydperk kan doen om uitdagings die hoof te bied.
Impak van die regte varkvoeding
Daar is sekere tye tydens dragtigheid, wanneer die regte varkvoeding ‘n groter impak op sekere eienskappe kan hê. Werpsel-eenvormigheid en geboortegewig verg in die eerste maand van dragtigheid en selfs in die tyd vanaf speen tot dektyd, aandag.
Ondersoeke toon dat tot 30% van die sôe in die bedryf nie genoeg biesmelk produseer nie en soos die getal varkies in werpsels toeneem, raak die uitdaging groter. Dit kan reggestel word met strategiese voeding vir die sog tydens dragtigheid, met genoeg ruvesel in om hardlywigheid teen te werk.
Oorlewing van varkies
Die lewenskragtigheid van varkies en dié wat dood aankom, is nou verwant. Sewentig persent van doodgebore varkies vrek tydens geboorte, hoofsaaklik omdat hulle weens ‘n stadige geboorteproses versmoor.
Steyn meen net soos by mens-babas, word die voeding van varkies ook volgens verskillende fases aangepas. So maak die produsent nie net so na as moontlik vir die behoefte van die dier voorsiening nie, maar ook vir haar vermoë om die voer te kan verteer en dit om te sit in waardevolle proteïene, energie en liggaamsreserwes. In wese maak dit voorsiening vir groei, wat immers die doelwit is.
Fasevoeding
By varkvoeding word ‘n hele populasie gevoer en word daar dus op gemiddelde gewig gewerk. Hoe meer variasie daar is, hoe groter is die uitdaging om die varke te voer.
Varkies word gewoonlik gevoer in fases wat volgens gewig bepaal word. Die jongste varkies kry meestal ‘n voer met ‘n melkbasis en soos hulle ouer word, word die melkprodukte vervang met soja. Dit gebeur tot op die gemiddelde ouderdom van tien weke of 30kg, wanneer hulle gespeen word.
Die grootste uitdaging wêreldwyd is dat baie Europese en Amerikaanse markte opgehou het om antibiotika voorkomend in hul voermengsels te gebruik. Dit vereis dat korrekte voeding gegee moet word om siekteprobleme te minimaliseer.
Lees meer oor ‘n varkvleisproduksiestelsel wat glad verloop.
Om die varkies van melk na vastekos oor te skakel is een van die spanningvolste tye in hulle lewens en die proses moet geleidelik plaasvind. Grondstowwe en rantsoene speel hier ‘n baie belangrike rol. Die samestelling van diëte vir klein varkies is kompleks. Van 15 tot 20 verskillende grondstowwe word gebruik. Hoe groter die varke raak, hoe makliker word dit om hulle voer te formuleer.
Voeding in die groeifase
Ná die speenfase (ouderdom tien weke of 30kg) beweeg die varke na die groeifase waar hulle vir gemiddeld twaalf weke gevoer word totdat hulle bemark kan word. Die ideaal in Suid-Afrika is om varke tussen die ouderdom van 22 en 23 weke te slag, omdat hokspasie beperk is.
In Suid-Afrika is die primêre doelwit ook om groei na te jaag. Hoe meer kilogramme die produsent tydens die laaste twaalf weke by sy kudde kan sit, hoe swaarder is die karkasse en hoe hoër die omset.
‘n Vark het die vermoë om sekere byprodukte goed te verteer en dit bly altyd voordelig, maar dit is belangrik om te fokus op gehalte byprodukte. Goeie byprodukte in voerrantsoene is nodig vir groter mededingendheid.
Vir meer inligting, kontak Mart-Marie Van Zyl by 082 494 7577 of epos martmarie.vanzyl@trouwnutrition.com, of WJ Steyn by 083 257 0827 of epos wistreyn@swine.co.za.