'n Verlies aan bogrond beteken uiteindelik 'n verlies aan inkomste.

Goeie bestuur van weiveld begin by kennis van die veld. Dit is veral voor en tydens droogtes uiters belangrik om veld korrek te lees, sodat regstellings betyds gemaak kan word. Verder is veldkennis belangrik voordat sekere wildsoorte daar gevestig word. So sê Ken Coetzee van Conservation Management Services.

Ken Coetzee.

“Wildboere moet weet hoe om hul veld en plante te bestuur. Hulle moet hul veld leer lees en ken om te weet watter plante op die plaas beweibaar is en watter nie. Die grootste rede vir veldagteruitgang is gewoonlik oorbeweiding. Dit is dus belangrik om te weet wat die kort- en langtermynimpak van verskillende diere op jou veld is, veral omdat diere verskillend wei – sommige vreet blare en ander gras.”

Verminder getalle betyds

Ken sê veld moet ten alle koste gespaar word. “Goeie bestuur op ’n wildsplaas is eintlik veldbedekkingbestuur. As dit nie reën nie, gaan die veld nie verbeter nie. Te veel diere gaan ook die veld verniel. Wanneer te veel diere aangehou word, ontbloot dit die grond en wind- en watererosie vind makliker plaas.

“Goeie oordeel wanneer diere verminder moet word kan die boerdery red, maar as daar te lank gewag word, gaan die diere nie verkoopbaar wees nie en is die veld reeds verniel. Dit kan selfs beter wees om al die diere van die veld af te haal en ná die droogte weer van nuuts af diere te koop.”

Hy sê grond wat oorbewei en verniel is, is baie kwesbaar vir erosie. Wanneer die veld oorbewei is, is die grond blootgestel aan die natuurelemente. Afloop word dan meer en waterindringing minder. Plante is nodig om erosie te keer.

’n Takbedekking is ’n goedkoop en maklike manier om erosie te bekamp.

Verskeie metodes bestaan om erosie te beheer en die kernbeginsel is om die afvloei van water te keer. ’n Eenvoudige metode is om doringbome af te sny en erosieslote daarmee te bedek. Ander metodes, soos om klippe in erosieslote te pak, slote met draad toe te span en ou motorbande in die slote te plaas sodat grond daarteen kan vasspoel en sade daar kan ontkiem, kan ook ingespan word.

Monitor jou veld

’n Wildboer het moniteringstelsels nodig om veldbestuur behoorlik toe te pas. Wanneer ’n mens daagliks na jou veld kyk, sien jy nie die geleidelike agteruitgang raak nie. As dit egter gereeld gemonitor word, let jy makliker op agteruitgang. Die geheim lê in herhaalbare monitering van dieselfde dele van die veld oor ’n tydperk, wat dan vergelykbare data lewer.

’n Goeie voorbeeld van oorbenutte veld. Die smaaklike bome is oorbenut en daar is ’n verlies aan grondbedekking. Bosindringing en gronderosie is ook sigbaar.

“Skep ’n vaste punt waarvandaan foto’s geneem word,” stel Ken voor. “Merk dit duidelik en beskryf die proses volledig. Die opeenvolgende foto’s moet van presies dieselfde punt en volgens dieselfde proses geneem word. Dié foto’s word dan vergelyk – verskille in digtheid van die plante behoort maklik waarneembaar te wees. Dieselfde proses kan gebruik word om erosie dop te hou.”

Goeie monitering en bestuur stel die produsent in staat om te bepaal hoeveel volhoubare veld daar op die plaas is. Voortdurende veldinspeksie is dus noodsaaklik. Ken se raad is om die weervoorspellings dop te hou en langtermynbeplanning daarvolgens te doen.

Volledige opname van water

Volgens hom is goeie veldbestuur aan goeie waterbestuur gekoppel. Wildboere doen selde ’n volledige opname van alle waterbronne op die plaas, soos fonteine, boorgate, spruite, damme en vleie, maar kennis van dié waterbronne is noodsaaklik.

As jou veld in ’n goeie toestand is, sal jy min probleme met water hê, sê Ken. “Die veld is soos ’n spons. As die toestand van die veld en plantbedekking goed is, sal die water ook goed wees, want goeie veld help dat die water indring en nie afvloei nie. En goeie indringing beteken dat die nodige voedingstowwe in die grond beland.”

Dit is noodsaaklik dat jou water reg bestuur word. “Weet waar jou water is en hoe standhoudend dit is. Pomp ook so min water as moontlik – net genoeg vir gebruik – uit boorgate. Bedek sementdamme sodat minder water verdamp.

“Waar gronddamme gebruik word, beplant die damme met riete om die water te help bewaar. Sorg dat daar genoeg suipings is sodat die diere nie die veld rondom die water vertrap en dit kaal en kwesbaar vir erosie word nie.”

Beginsels vir waterbestuur

Omdat water veral tydens droogtes uiters belangrik is, kan ’n paar basiese beginsels toegepas word in die gebruik van water vir wild en vee:

  • Probeer altyd die natuurlikste waterbron moontlik gebruik. Dit behels die oordeelkundige gebruik van fonteine, spruite, panne en vleilande.
  • Diere kan natuurlike waterbronne beskadig. Vertrapping kan fonteine laat ophou loop en rivieroewers of kwesbare vleilande beskadig.
  • Vermy sensitiewe gebiede soos vleilande wanneer ’n drinkplek geskep word.
  • Drinkplekke moet voorsiening maak vir groot- en kleinwild.
  • ’n Netwerk van kunsmatige drinkplekke moet voorsiening maak vir die volhoubaarheid van die plantegroei wat as voer gebruik kan word, die sensitiwiteit van die gebied tussen die drinkplekke vir erosie, die verspreiding en voorkoms van seisoenale water, en die waterbehoeftes van verskillende wildspesies.
  • Neem die landskap in ag. Slim gebruik van water verseker dat die ondergrondse waterbron nooit van die ekostelsel wat daardeur gevoed word, afgesny word nie.

Beheer indringerplante

Indringerplante, sê Ken, word ’n ál groter probleem. Probleme wat deur dié plante veroorsaak word, val in dieselfde liga as droogte of vloede, verlies aan bogrond en agteruitgang van weiveld. Indringerplante kan ekosisteme heeltemal verander en die waarde van die plaasgrond aansienlik verlaag. Dit kan ook die produktiwiteit van veld beduidend verminder deur die inheemse plante te verdring.

“Uitheemse plante kry nie genoeg aandag in Suid-Afrika nie. Dit is belangrik dat produsente indringerplante ken en weet hoe om dit te beheer. Dié plante versprei vinnig en neem die veld vinnig oor. Die twee beste maniere om uitheemse plante te bestuur, is om dit uit te kap of biologies te beheer.

“Eersgenoemde is ’n reuse en intensiewe taak. As dit nie die eerste keer reg gedoen word nie, gaan die probleem nie opgelos word nie. Biologiese beheer kan slaag indien die middel om dit te beheer, van die land van oorsprong van die indringerplant gebring word.”

Leer by jou werkers

Aangesien die toestande op elke plaas verskil, moet elkeen afsonderlik ontleed en gemonitor word. “Kry kenners in om met beplanning en bestuur te help. Dit is ook belangrik om jou werkers op te lei om met wild te werk. Hulle moet vertroud met die werk en tipe boerdery wees, en alle aspekte daarvan verstaan.

“Produsente moet natuurlik nie huiwer om by hul werkers te leer nie. Werkers stap meer gereeld oor die plaas en ken dit dikwels beter as die eienaar self.” – Chris Jooste, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Ken Coetzee
by 044 870 8472 of consken@mweb.co.za.