Estimated reading time: 2 minutes
Dit is nie aldag dat die room van die land se veselbokke gesamentlik onder een dak vertoon word nie. So ’n geleentheid het vroeg in November 2022 op Willowmore plaasgevind, toe die 86ste Angora-skou die Karoo-dorp as te ware op horings geneem het. Die geleentheid het plaasgevind onder leiding van die organiseerder, Andries Greeff, met die ondersteuning van Sybokhaar SA, die SA Sybokhaarkwekersvereniging, en verskeie borge.
Lees meer oor die voedingsprojek wat Angora produsente aan die praat het.
Inskrywings vir die skou was gratis, en kommersiële en stoetprodusente uit al vier windrigtings het gedurende die twee dae lange geleentheid in die verskillende afdelings deelgeneem. Daar was talle hoogtepunte, soos die aanwysing van die senior kampioenram en senior reserwe kampioenram, waar Ray Hobson van Thorn Park Angoras met die louere weggestap het, terwyl Grootfontein Landboukollege in verskeie afdelings skoonskip gemaak het. – Carin Venter, Plaas Media
Vir meer inligting, kontak Andries Greeff by 082 789 6824 of beervlei@gmail.com.
Lees meer oor die Angorabedryf
Skuins van die Baviaanskloof se berge in die westelike gedeelte van die Oos-Kaap, loop ’n teerpad tussen Willowmore en Steytlerville, en dit is hierlangs waar ’n handjievol produsente dit regkry om ekstensief en winsgewend met skape te boer.
In die nadraai van ’n sewe-jaarlange droogte, het Veeplaas die omgewing besoek en by Brighton Farm ingedraai om meer uit te vind oor Ross Henderson se ekstensief-intensiewe Merino- en Angoraboerdery.
In die noordelike provinsies van Suid-Afrika word daar net met ’n handjievol Angorabokke geboer. Dit lei dan uiteraard tot die vraag of daar weliswaar vir die noordelike bure van die Karoo ’n toekoms in dié bedryf is. Veeplaas het die plaas Uitval in die Wolmaransstad-omgewing van Noordwes besoek, waar Petrus Marx suksesvol met dié veseldraende ras boer.
Die 27-jarige produsent is daarvan oortuig dat ’n Angora-boerdery met die regte bestuurspraktyke in plek, beslis suksesvol in die noorde van die land bestuur kan word. Volgens hom is die rede waarom daar nog nie dosyne Angorabok-produsente in dié omgewing is nie, ’n gebrek aan kennis van dié bedryf wat eintlik met die Karoo vereenselwig word.