2015 Santam Landbou kuilvoerkoning gekroon

0
1034

Van links na regs is Albert Loubser, redakteur van Veeplaas, Hannes Neethling, Neels Neethling en Gerhard Diedericks van Santam Landbou.

Hannes en Neels Neethling van die plaas Rooikoppies buite Rayton is vandeesweek gekroon as die 2015 Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkoning. Tans word sowat 400 koeie op Rooikoppies gemelk met planne om tot ongeveer 550 koeie in melk uit te brei. Hulle melk drie keer per dag en die koeie kry twee keer per dag ’n volvoerrantsoen. Volgens Hannes bly voerproduksie ’n groot uitdaging vir enige melkboer en is kuilvoerproduksie noodsaaklik om die uitdaging die hoof te bied.

Die Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie, in samewerking met Veeplaas en Stockfarm, het ten doel om ’n bydrae tot die bevordering van goeie kuilvoerpraktyke te maak. Die kompetisie behels ondermeer dat plase besoek en kuilvoermonsters geneem sal word. Studente van verskeie universiteite se veekunde-fakulteite is vanjaar weer ingespan tydens die proses van monsterneming vir die kompetisie. Veekundestudente van die Universiteite van Pretoria, Vrystaat, Stellenbosch en die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit is opgelei om monsters by deelnemers te neem en ’n eerste-rondte evaluering op die perseel van die betrokke kuilvoer te doen.

Monsters is op altesaam 54 plase in sewe provinsies regoor Suid-Afrika geneem. Die monsternemingsproses geskied volgens streng protokol om te verseker dat betroubare monsters by die laboratorium aankom. Die monsters is saamgestel, hanteer, vervoer en gestoor volgens die voorgestelde protokol en na ’n sentrale laboratorium geneem, waar ’n basiese ontleding gedoen word wat aansluit by en gebruik word vir die finale berekeninge. Die monsters word dan vir spesifieke ontledings na ’n onafhanklike laboratorium in die buiteland gestuur. Die proses is deur Feed First ondersteun.

Die altesaam 56 inskrywings in die 2015-kompetisie het gesorg vir strawwe mededinging. Maatskappye wat boere ingeskryf het was ANH, Opti Feeds, Biomin, Afgri, Vitam, Nupro, TWK.

Die kategorie-resultate is as volg:

Mieliekuilvoer:
1ste plek – JH Neethling (Hannes en Neels Neethling)
2de plek – Mafunyane (Manus Pretorius)
3de plek – Eensgezind Boerdery (Danie Louw)
Finalis – Sparta Baby Beef, Rietfontein (Sello Ntjoboko, Lou van Reenen)

Hawerkuilvoer:
1ste plek – Wydgelegen (Johan du Toit)
Finalis – Limpopo Dairy (Joubert Fourie, Willie du Preez)

Voersorghum:
Meriete toekenning – MD Foundation, Hannes Pretorius

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY