113de Bathurst-landbouskou lok ’n rekordskare

Estimated reading time: 4 minutes

Met ’n rekord wat oor langer as ’n honderd jaar strek, kan Bathurst se jaarlikse landbouskou as een van die land se veteraanskoue wat die toets van tyd deurstaan het, beskou word. Vanjaar het die geleentheid alle verwagting oorskry met honderde besoekers en tjok-en-blok vol parkeerareas wat sommiges genoodsaak het om hul voertuie verder aan langs die R67 te parkeer.

Bathurst
Met ’n kykie na die toestroming van besoekers by vanjaar se Bathurst-landbouskou, wil dit blyk of 13 ’n gelukkige nommer vir dié Oos-Kaapse skou is.

Die 113de skou wat vanaf 30 Maart tot 2 April gehou is, het uit sy nate gebars met ’n kleurryke verskeidenheid van stalletjies, uitstallings en aktiwiteite waaraan oud en jonk kon deelneem. Dit is ook met groot genoeë dat die skou se president, Neil Scott, na die tyd vir Veeplaas gesê het dat die tradisionele jaarlikse geleentheid sekerlik een van die bestes nog was. “Daar het deurgaans ’n feestelike atmosfeer geheers,” het hy gesê. “Namens die skoukomitee wil ek graag dankie sê vir almal se harde werk en elke besigheid en borg wat dit moontlik gemaak het om vanjaar se 113de skou aan te bied. Dit is ook vir ons ’n riem onder die hart dat baie mense van regoor die land af gekom het om van die skou-aktiwiteite aan te bied, of sommer net as besoekers by te woon.”

Lees meer oor laas jaar se skou.

Die skouterrein het gespog met indrukwekkende implemente wat deur verskeie trekker- en landbou-maatskappye uitgestal is, sowel as die Albany Vintage Car Club se spoggerige ou motors. Laaste maar nie die minste nie, het die lewendehawe-afdeling, soos altyd, nie teleurgestel nie met strawwe kompetisie tussen die deelnemers en enkele veilings wat vir groot opwinding gesorg het. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak die Bathurst Landbouvereniging by 046 625 0759, of Neil Scott by 083 442 0517.

Popular stories