kuilvoerkoning
Finaliste in die 2016 Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie.

“Die inskrywings vir die 2016 Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie het ’n baie goeie standaard gehandhaaf. Dit is veral betekenisvol as jy in ag neem dat die produksie in ’n droogtejaar was, wat volumes en gehalte kan beïnvloed,” sê Richardt Venter, voorsitter van Kuilvoer SA.

Die Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie, in samewerking met Veeplaas en Stockfarm, word sedert 2014 met groot sukses aangebied. Die kompetisie sal egter geensins moontlik wees sonder die ondersteuning van borge nie.

“Ons is dankbaar om van dag een af en reeds vir drie rondtes van die kompetisie die ondersteuning van Santam Landbou as naamborg te hê. In 2016 het Monsanto Suid-Afrika ook hul ondersteuning aan die bedryf bevestig deur as prysborg betrokke te raak. Net so belangrik is die ondersteuning van die kuilvoer-insetverskaffers wat die kompetisie ondersteun deur hul kliënte in te skryf,” sê Albert Loubser, redakteur van Veeplaas.

Die doel van die kompetisie is die bevordering van die kuilvoerbedryf in Suid-Afrika. “Die fokus is absoluut op produksie van gehalte-kuilvoer en ook die verbetering van die algemene gehalte van kuilvoer wat in Suid-Afrika geproduseer word,” sê Venter. Daarby is dit ook belangrik dat erkenning gegee word aan boerderye waar topgehalte-kuilvoer geproduseer word.

Venter sê beoordeling tydens die kompetisie word op ’n wetenskaplike basis gedoen. Plasings word gedoen volgens ’n hele aantal faktore wat in ’n formule saamgevat word om ’n finale punt te bepaal. “Die meeste van die faktore word beoordeel deur ontledings wat plaaslik en in die VSA gedoen word. Ander is beoordeling deur enkele observasies en metings wat op die plaas tydens monsterneming gedoen word.”

Deur die loop van 2016 het twee spanne studente van twee universiteite hard gewerk om kuilvoermonsters op elk van die deelnemende plase te neem. Die top tien word deur die beoordelingsproses ná die monsterneming geïdentifiseer, waarna elk van dié finaliste besoek word om te verseker dat die boerdery se kuilvoerproduksie werklik ’n plek onder die beste tien waardig is.

Soos genoem, is die verbetering van die gehalte van kuilvoer wat geproduseer word ’n baie belangrike doelwit van die kompetisie. “Met dié doel in gedagte word gedetailleerde verslae ná die aankondiging van die wenner aan die deelnemers gegee. Hierdeur word areas waar verbeter kan word, uitgewys en kan selfs beter kuilvoer geproduseer word wat uiteindelik tot voordeel van die Suid-Afrikaanse veebedryf is.” Kyk hier na ’n Grootplaas-onderhoud waarin Richardt Venter die invloed van die droogte op die kompetisie asook tipiese foute wat gemaak is, bespreek.

Kuilvoer van enige gewas kan vir die kompetisie ingeskryf word. “Mieliekuilvoer is die algemeenste in Suid-Afrika en ons vind natuurlik dat die meeste van die inskrywings mieliekuilvoer is. Inskrywings van voersorghum-kuilvoer en hawerkuilvoer is ook ontvang.”

Volgens die kompetisiereëls is ’n kategorie slegs geldig as vyf inskrywings ontvang word. “Die jaar het ons soos gewoonlik ’n sterk mieliekuilvoerkategorie gehad en vir die eerste keer ook ’n sterk voersorghum-kuilvoerkategorie. In die kategorie vir hawerkuilvoer is egter net vier inskrywings ontvang en dus is net merietetoekennings in die kategorie oorhandig,” verduidelik Venter. -Marike Brits, Veeplaas

Die uitslae van die 2016 Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie is as volg:

Die 2016 Santam Landbou Kuilvoerkoning is Van Greunen-boerdery. Biomin het dié boerdery ingeskryf. Van links is Gerhard Diedericks van Santam Landbou, Albert van Rensburg van Biomin, Cecile en Bennie van Greunen van Van Greunen-boerdery, Magda du Toit van Monsanto SA, Albert Loubser, redakteur van Veeplaas, prof Robin Meeske, voorsitter van die kompetisie se protokolkomitee, Richardt Venter van AgSci Unlimited en Niel Esterhuyse van Santam Landbou.

Mieliekuilvoer:

  1. Van Greunen-boerdery (Bennie van Greunen)
  2. Mafunyane (Manus Pretorius)
  3. Limpopo Dairy
  4. Pleasantview (Ian Oosthuizen)
  5. DJ Legemaat (Job Legemaat)
  6. JH Neethling (Hannes en Neels Neethling)
  7. Lente (Leon Badenhorst)
  8. Klipheuwel (JH Blanckenberg)
  9. Eensgezind (Danie Louw)
  10. Rockridge (Wynn Dedwith)

Voersorghumkuilvoer:

  1. Westend Landgoed (Gert Scholtz)
  2. Doornhoutrivier (Gert Wessels)
  3. Walkton-vleis (Jaco van der Walt)

Hawerkuilvoer (merietetoekennings):  

  • Klipheuwel (JH Blanckenberg)
  • Kluitjieskraal (Jan Schoonwinkel)

Besoek die hutsmerk #Kuilvoerkoning op Facebook of Twitter vir meer oor die kompetisie. Besoek ook die kompetisie se blad op AgriOrbit vir meer nuus. Klik hier.

 

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY

2 × 3 =