Sonkrag was die logiese manier om krag te voorsien aan die besproeiingspompe vir ’n nuwe makadamia-plaas naby Hazyview. Landbougrond is egter skaars en ‘n vindingryke oplossing is bedink om die verskeidenheid voordele van sonkrag te benut, sonder om waardevolle landbougrond af te staan.  Die sowat 315 sonpanele is op spesiaal behandelde houtpale wat in ’n dam ingeplant is aan aluminium (roesvrye raamwerke net bokant die watervlak vasgeheg, wat dit uiters moeilik maak om kabels of panele te steel. Verder werk die stelsel ook beter op die koeler oppervlakte en help dit ook om verdamping van die water te voorkom.

Francois Badenhorst, wat die 140ha Perry’s Bridge-plaas ontwikkel vir Jack Brotherton, ’n sakeman wat in die vliegtuig- en toerismebedryf bekend is, is self ’n boer van die omgewing. Die feit dat die sonpanele nie op waardevolle landbougrond waar bome geplant gaan word, opgerig is nie, maak die stelsel nog aantrekliker.

Volle beheer oor kraglewering

“Omdat die stelsel net krag gaan voorsien wanneer die son skyn en batterye dus nie vir die opberg van krag nodig is nie, gaan dit oor die lang termyn kostedoeltreffender wees as wanneer Eskom-krag gebruik sou word. Met dié stelsel het die boer ook volle beheer oor die kraglewering, terwyl hy met Eskom-krag uitgelewer is aan beurtkrag en kragonderbrekings, wat hom skade kan berokken as dit op kritieke tye voorkom.

“Altesaam 40 tot 50% van ’n boer se Eskom-rekening word aan vaste koste toegedeel waaroor die boer geen beheer het nie. Hy moet dit betaal, ongeag hoeveel krag hy gebruik. Volgens berekening kan die kapitale koste van die sonkragstelsel binne sewe jaar gedelg word met die geld wat die boer aan Eskom-krag sou spandeer om dieselfde werk te doen,” vertel Francois.

Die stelsel word deur Telenetix Solar van Centurion voorsien. Mias Nieuwoudt, hoofbestuurder van dié onderneming, bevestig dat die sonkrag meer kostedoeltreffend is en sê as die kapitale koste van die stelsel gedelg is, kos die krag wat daarna opgewek word feitlik niks nie.

Nóg voordele van sonpanele

Die panele is vir 25 jaar gewaarborg en word ook nie maklik deur hael beskadig nie.

Hy voeg by dat sedert 2016 ’n belastingvoordeel toegestaan is om die gebruik van sonkrag aan te moedig. Volgens die toegewing kan 100% van die koste van die stelsel in die eerste jaar afgeskryf word, wat sowat 28% van die koopprys verteenwoordig. Dit verbeter die rendement op die belegging in ’n sonkragstelsel met tot 38%.

Die nuutste tegnologie word in die stelsel op Perry’s Bridge gebruik om die elektrisiteit wat die sonpanele opwek (gelykstroom) deur ’n wisselende spoedaandrywer na enkel- of drie-fase-krag (wisselstroom) om te skakel. Geen krag uit die Eskom-netwerk is nodig nie en die besproeiingspompe word ten volle deur sonkrag aangedryf.

’n Bykomende voordeel van die stelsel is dat dit vir kragvoorsiening in afgeleë gebiede ver van die bestaande Eskom-kragnetwerk gebruik kan word, sonder die hoë koste verbonde aan die aanlê van ’n kraglyn daarheen.

Die stelsel kan ook stelselmatig uitgebrei word indien meer krag benodig word, bloot deur nog modules by te voeg. Daarby is dit ’n lae-spanning stelsel, wat beteken dat die boer self die onderhoud en instandhouding kan doen.

Koste van installering

Die koste om die stelsel te installeer, beloop R12 000 tot R15 000 per kilowatt, wat alles teen belasting afgeskryf kan word. Indien nodig, kan ’n batterystelsel daaraan gekoppel word sodat die krag geberg kan word, maar dit is duur en dié tegnologie is nog nie kostedoeltreffend nie. Mias sê dié tegnologie word nou vinnig verbeter en hy glo oor twee jaar sal hy dit met vertroue kan aanbeveel.

Francois sê die plaas bestaan uit ou tabaklande waarop later ook sitrus- en mangobome geplant is. “Dit is egter ’n baie vogtige omgewing en swamsiektes het dit moeilik gemaak om met dié gewasse te boer, maar die klimaat is uiters geskik vir die verbouing van makadamianeute. Dit vereis relatief min arbeid, hael en wind rig min skade aan en stinkbesies, wat die vernaamste uitdaging is, kan betreklik goed beheer word.”

Grond-opgaardam

’n Ander waterbron is in die verlede gebruik om die gewasse te verbou, maar met die nuwe ontwikkeling was dit nodig om ’n grond-opgaardam wat sowat nege miljoen liter water hou, te bou.

Die panele word met spesiale hegstukke aan die raamwerk vasgesit en ’n spesiale stuk gereedskap is nodig om die hegstukke los te maak as die panele verwyder moet word. Die hegstukke kan weliswaar met geweld gebreek word, maar omdat dit bokant die water is, wat te diep is om in te staan, is dit feitlik onmoontlik om dit reg te kry.

Nadat die gronddam gemaak is, is die houtpale, wat spesiaal behandel is om in die water te kan staan, op die bodem geplant. Die waterdigting is op die bodem gelê sodat die pale deur gate in die waterdigting gepas het. ’n Silinder met ’n plat plaat onderaan is oor die paal getrek en die plat plastiekplaat is aan die waterdigting vasgesmelt. Die silinder is ook waterdig om die paal verseël sodat geen water kan uitlek nie.

Klik op dié logo om by die JoJo Tanks webtuiste uit te kom.

“Drie rye pale is vir elke roesvrye raamwerk ingesit, die panele is op die raamwerk vasgesit en die bedrading is ingesit voordat water in die dam ingepomp is,” sê Francois. Ingevoerde A-graad panele is gebruik en dit is skuins op die raamwerk gemonteer om die sonstrale ten beste te benut, en wek saam genoeg krag op om die pompe aan te dryf. Die 315 panele wat nou opgesit is, is voldoende vir die eerste drie fases van die ontwikkeling. Nog 105 panele sal later aangebring word om die laaste fase te bedien.

In die pomphuis is drie pompe wat elk water eers deur ’n filtreerder en dan deur ’n drupbesproeiingspyp pomp, wat 60ha kan bedien. Aanvanklik word net een drupperpyp langs die boompies, wat op riwwe geplant is, gelê sodat dit water uit drie druppers digby die stammetjie toedien.

Namate die bome groter word, word sowat 18 maande later ’n tweede en nog 12 maande later ’n derde drupperpyp op die rif gelê sodat elke boom uiteindelik deur nege druppers bedien word, wat die hele wortelsone van die boom natmaak.

Meer oor die boorde

Die riwwe waarop die boompies geplant word, is 800mm hoog en 2m wyd, en in die ry is die boompies 3m uitmekaar geplant. Die rye is 8m uitmekaar en daar is sowat 416 bome per hektaar.

Die toediening van water word deur ’n rekenaarstelsel beheer om te verseker dat die bome die hoeveelheid water kry wat nodig is. Vogmeters bepaal wat die voginhoud van die grond is en voer die inligting in die rekenaarprogram in.

Die rekenaar skakel die stelsel omstreeks agtuur in die oggend aan, wanneer die panele genoeg krag lewer om die pompe aan te dryf. Afhangende van die voginhoud van die grond, word water vir twee tot agt uur lank toegedien. Die rekenaarstelsel skakel die stelsel outomaties af wanneer voldoende besproei is.

Francois sê die gedagte is om die water stadig en aanhoudend toe te dien sodat die boom al die water kan benut en niks uitloog nie. “Omdat die water dan stadig in die grond beweeg, is dit geneig om ook na die kante toe eerder as net reg ondertoe in te dring. Die stelsel is in staat om 63 liter water per dag per boom toe te dien. Ondervinding het geleer dat dit nog nie nodig was om langer as agt ure te besproei nie.”

Bemesting van bome

Die bemesting vir die bome word aan die hand van grond- en blaarontledings toegedien. Die gekonsentreerde bemesting word in twee tenks in die pomphuis in water opgelos, waarvandaan dit na ’n verdunningstenk gelei, verder verdun en dan in die waterpyp tussen die pomp en filtreerders ingevoer word. Skoon water word aan die einde van die proses deur die pype gepomp om verstoppings te voorkom.

Om te voorkom dat daar oop kolle grond op die riwwe is, word onkruid en gras toegelaat om daar te groei, maar in die plantry word dit kort gehou. Die snysels wat afkom, word as deklaag om die boompies geplaas. Die oogmerk hiermee is om verdamping te beperk, die grondlewe te beskerm en te voorkom dat die wind die klein boompies beskadig.

Francois sê die oogmerk is om die bome net te besproei as die son skyn. “As die son nie skyn nie, gebruik die bome feitlik geen water nie. Die besproeiingstelsel pas dus uitstekend by die verbouingstelsel in.

“Dit is ’n laevloei-besproeiingstelsel wat die water stadig en egalig toedien, wat dit moontlik maak om die hele wortelsone se voginhoud op veldkapasiteit te hou. Soos wat die boom water gebruik, word dit net aangevul sonder dat daar oorbesproei en suurstof uit die grond gedryf word, wat wortels kan laat afsterf.

“As dit bewolk raak en die stelsel nie genoeg elektrisiteit opwek om die pompe aan te dryf nie, kan die bome drie tot vyf dae met die beskikbare vog in die grond klaarkom. Normaalweg reën dit egter as dit so bewolk raak en is die verdamping ook laer. As dit egter nie in hierdie tyd reën nie, moet ekstra water gegee word sodra die pompe weer loop om die grond in die wortelsone weer op veldkapasiteit te kry.”

Francois sê die stelsel is splinternuut en dit is moeilik om te voorspel watter bykomende voordele verwag kan word. Boere wat soortgelyke stelsels gebruik, sê hul ondervinding is dat hulle die makadamias normaalweg vroeër kan oes en dat die opbrengs ook beter is. – Andries Gouws, AgriOrbit

Vir meer inligting, kontak Francois Badenhorst by 082 922 2089 of epos fransdel@mweb.co.za, en Mias Nieuwoudt by 082 808 8877 of epos mias@telenetix.co.za.

Lees die artikel in Engels in die April-uitgawe van Farmbiz.

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY

5 − 2 =