Die stryd teen snotsiekte, ’n dodelike siekte by beeste wat hoofsaaklik deur wildebeeste gedra en versprei word, is in die pylvak en as alles glad verloop, kan sy doppie teen die einde van die jaar geklink wees.

Dr Peter Oberem, besturende direkteur van Afrivet, die onderneming wat die werk doen om ’n entstof teen snotsiekte te ontwikkel, sê toe die siekte die stryd aangesê is, het hulle vasgestel dat die Moredun-navorsingsinstituut in Skotland die BMC-virus, wat die siekte veroorsaak, in Oos-Afrika geïsoleer het en ’n entstof ontwikkel het.

Die Skotte het ingestem om die entstof aan Suid-Afrika te verskaf, maar die Suid-Afrikaanse regering het vereis dat eers deur DNS bepaal moes word of dit dieselfde virus as die een in Suid-Afrika is. Hierdie stap is nodig om te voorkom dat ’n nuwe virus na Suid-Afrika gebring word.

Die toetse is gedoen, 500 dosisse van die entstof is ingebring en 250 diere op vyf plase is twee keer twee weke uitmekaar geënt. Monsters is van die afskeiding in die diere se neuse geneem om te bepaal of die virus daar voorkom en bloedmonsters is terselfdertyd geneem, wat in Augustus in Skotland ontleed is om vas te stel of daar teenliggaampies in die bloed is. Dit sal gebruik word om ’n data-dossier saam te stel, wat dan deur die owerheid nagegaan moet word om te besluit of die entstof hier geregistreer kan word.

Hy sê as dit voldoende benadruk word dat die entstof werk, kan die regering die proses binne ’n paar weke afhandel en kan die middel teen die einde van die jaar beskikbaar wees. – Andries Gouws, Veeplaas

 

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY