Llewellyn Brooks

Die GWK-direksie het aangekondig dat Llewellyn Brooks, huidige besturende direkteur van GWK Verhandeling, as die GWK-groep se nuwe
besturende direkteur aangestel is. Die aanstelling tree op 3 April 2017 in werking. Pieter Bekker sal voortgaan om die rol as waarnemende besturende direkteur te vervul tot 2 April 2017.
Brooks is reeds vir ses jaar deel van die GWK-span en het heelwat uitdagings gedurende hierdie tydperk met groot sukses hanteer. Frank Lawrence, voorsitter van die GWK-direksie, beskryf Brooks as ’n sterk leier met die vermoë om die GWK-strategie met volhoubaarheid te implementeer.

“Die GWK-direksie is trots om een van ons interne leiers in hierdie posisie te kan aanstel. As besturende direkteur van GWK Verhandeling was Brooks verantwoordelik vir ’n diverse groep besighede binne GWK. Hy en sy span het heelwat suksesse behaal oor die afgelope ses jaar en ’n verskeidenheid nuwe markkanale ontgin.

“Hulle het onder meer daarin geslaag om ’n internasionale verhandelingseenheid te begin en dit te laat groei na ’n besigheid met ’n omset van amper R1 miljard. Verskeie onderpresterende besighede is ook met groot sukses omgedraai en gevestig as volhoubare besighede, wat hul doelwitte konstant bereik,” sê Lawrence.

Onder leiding van Brooks het die verhandelingspan ook vir heelwat eerstes by GWK gesorg. Dit sluit in nuwe verskansingstrategieë vir katoen, uitvoertransaksies vir ’n aantal kommoditeite, oor-grens-transaksies, asook strategiese beleggings in maatskappye met sinergieë om die besigheid te laat groei en volhoubaarheid te verseker. – GWK

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY