Meer en groter mango’s word vanjaar deur boere geoes, maar groot uitdagings staar die bedryf ook in die gesig. As daar nie ’n goeie uitvoermark gevind word nie, gaan waarskynlik net die boere wat hul eie markte verseker het, oorleef.

In die afgelope dekade is Suid-Afrikaanse mango’s op die tradisionele uitvoermarkte deur vrugte van Suid-Amerika afkomstig uitgeboelie en het uitvoere feitlik doodgeloop. Daar is sprake van uitvoergeleenthede na Indië. As dié geleentheid nie benut kan word nie, lê ’n opdraande pad vir die bedryf voor.

Die plaaslike mark vir vars mango’s word in die piek-oestyd deur die enkele groot boere wat nog mango’s produseer, toegegooi en dit plaas pryse onder druk. Pogings word nou aangewend om die tyd waarin mango’s bemark word, te verleng.

Dit alles het meegebring dat die getal mangoboere gekrimp het deurdat mangobome met ander subtropiese gewasse, soos veral makadamia-neute en avokado’s, vervang is. Dit het die geld wat vir mango-navorsing beskikbaar is, ook geknou sodat boere wat nou nog mango’s plant al meer na hulself moet begin omsien.

Beter oes, druk op mark

In ’n verklaring sê die Suid-Afrikaanse Mango-kwekersvereniging (SAMGA) dat ’n algemene beter oes as verlede jaar vanjaar ingesamel word, en dat meer en groter vrugte van ’n beter gehalte geoes word. Dit is volgens inligting wat deur boere verskaf is.

Die 2016-oes is geknou deur hael, wat 17% van die totale oes vernietig het. Die warm en droë toestande het ook veroorsaak dat sonbrand verlede jaar sy tol geëis het. Siektedruk is glo vanjaar in sekere gebiede ook laer. Die heersende klimaatstoestande het ook meegebring dat die insameling van vanjaar se oes sowat twee weke vroeër as normaalweg kon begin.

Dit het daartoe gelei dat mangoboere by Malelane en Hoedspruit gelyktydig die gewilde vroeë kultivar, Tommy Atkins, begin oes het, wat die plaaslike markte onder druk gesit het en by tye vir ’n ooraanbod gesorg het sodat van die vrugte na sapverwerkingsaanlegte herlei moes word.

’n Daling in bestellings van internasionale kopers vir Suid-Afrika se gedroogte mango’s het die ooraanbod van vrugte op markte aangeblaas. Dit is waarskynlik toe te skryf aan die toenemende mededinging van Wes-Afrika, Burkina Faso en Ghana, en stygende produksiekoste van plaaslik gedroogte mango’s.

SAMGA sê voorts dat daar ’n geringe verskuiwing in die plaaslike vraag was, met effens minder vrugte wat tot nou toe deur verbruikers en kleinhandelaars opgeneem is. Hy meen egter dit strook met die seisoenale verandering in besteding na die Kersseisoen en aan die begin van die skooljaar, wanneer baie verbruikers platsak is.

Plaaslike mark groei wel

Oor die algemeen het die plaaslike varsproduktemarkte plaaslike mango’s goed ondersteun en was daar ’n positiewe verskuiwing van die vrugte op die markvloer. Boere verwag dat die vraag sal toeneem soos wat die seisoen vorder en ander kultivars die markte bereik.

’n Goeie aanbod groenskil-kultivars, asook Kent- en Keitt-mango’s, word verwag en die pryse behoort ook te verbeter. Dié vrugte gaan tot einde Maart beskikbaar wees, wat aan bemarkers die geleentheid bied om verbruikers meer bewus te maak van die goeie gehalte van groenskil-kultivars, wat ’n effens ligter groen kleur het wanneer dit ryp is. Die oogmerk is om verbruikers in te lig dat dié effens groter mango’s soet en geurig is en met groot welslae in die kombuis aangewend kan word.

Die beste eetmango’s, wat Keitt en die minder bekende kultivars soos Shelly, Irwin, Haden en Heidi insluit, gaan ook nou die winkelrakke begin bereik.

Nismark is noodsaaklik

Theuns Botha, wat op Lapland digby Tzaneen boer, stem grootliks saam dat mangoboere wat nie vir hulself nismarkte geskep en vasgemaak het nie, se winsgewendheid onder druk kan kom. Hy is ’n plantpatoloog wat ’n boer geword het.

Hy lewer al sy uitvoergehalte mango’s aan ’n bekende kettingwinkelgroep en dié vrugte wat nie aan die onderneming se streng vereistes voldoen nie, gaan vir verwerking in sap of droging. ’n Beduidende deel word ook deur die bakkiemark opgeneem.

Toe sy oupa, Theuns, op Lapland begin boer het, het hy onder meer ’n goudmyntjie bedryf en 36ha onder piesangs gehad, maar die water was te wisselvallig en mettertyd is besluit om na meer permanente gewasse oor te skakel.

Vandag het Theuns sowat 130ha onder mango’s, 50ha onder avokado’s, 13ha onder koejawels en 6ha onder litjies. Hy beplan om die litjiebome uit te haal en op dié grond ook mango’s te plant. Hy sê die litjies vaar nie so goed op sy plaas as mango’s nie.

Op Lapland is nou sowat 6ha onder Tommy Atkins, 20ha onder Joa, 4ha onder Shelly, wat hy nou besig is om uit te brei, 3ha onder ’n groenskil-kultivar en die res is onder Keitt.

Verskillende kultivars

Met die vroeë kultivar, Tommy Atkins, was jelliesaad beslis ’n groter probleem as verlede jaar. Die beste oplossing vir dié probleem is om minder vatbare kultivars te plant en skoon enthout vir nuwe boompies te gebruik.

Joa is ’n baie oulike kultivar, sê Theuns. Dit dra ’n effens kleiner vrug wat teen ’n telling van twaalf vrugte in ’n kissie van 4kg gepak word. Die kleiner vrugte is gesog by die winkelgroep waar hy sy mango’s bemark.

Shelly is weer ’n effens groter vrug wat teen ’n telling van agt tot nege per kissie gepak word en het ook ’n plek in die mark. Die Long Green groenskil-kultivar is eintlik ’n baie lekker mango, maar die meeste mense dink die vrugte is nog groen. Dié kultivar is veral baie gewild onder die Indiërs.

Keitt is die kultivar wat uitstekend op sy plaas vaar en maak daarom die grootste deel van die aanplanting uit. Dié kultivar dra baie goed en word oor ’n betreklike lang tydperk vanaf die middel van Februarie tot aan die begin van April geoes. Die vrugte is ook effens groter en word teen ’n telling van nege gepak. As ’n mens die bome reg bemes, is die vrugte baie aantreklik met ’n opvallende pienk kleur.

Ontleding van grond

Theuns sê voordat hy mango’s plant, laat hy die grond ontleed en dien kalk en fosfaat toe waar nodig. Daarna word die grond deeglik met ’n skeurploeg bewerk om verdigtingslae op te hef. Hy kweek die boompies wat hy plant in sy eie kwekery en afhangende van die kultivar, plant hy die bome in rye ses meter uit mekaar en in die ry twee tot drie meter uit mekaar. Dit gee vir hom ’n stand van onderskeidelik 800 en 550 bome per hektaar.

Tot nou toe het hy net boompies vir eie gebruik gekweek, maar hy brei nou die kwekery uit. Voordat hy begin boer het, was hy in beheer van ’n groot subtropiese vrugteboerdery se kwekery en dit is waar hy nou sy opleiding as plantpatoloog as ’n winsgewende stokperdjie wil beoefen.

Die grootste uitdaging in die kwekery is om entmateriaal te kry wat skoon is van bloeiselmisvorming, wat deur ’n fusarium-swam veroorsaak word. As ’n boom daarmee besmet raak, lyk die bloeisels soos klein blomkooltjies en die boom dra nie vrugte nie.

’n Werkbare oplossing

Tot ongeveer twee jaar gelede was daar geen oplossing vir die probleem nie en Theuns het alles waaraan hy kon dink op sy plaas beproef om die plaag hok te slaan. Uiteindelik het hy ’n middel wat vir avokadobome in die stam ingespuit word om wortelvrot te beheer, in die mangobome se stamme ingespuit.

Dit het gewerk, maar dit was nie prakties uitvoerbaar om dit in mangobome se stamme in te spuit nie. Die middel se samestelling is aangepas en ’n middel is ontwikkel wat as blaarbespuiting op nuwe groei toegedien word. Die middel is die eerste van sy soort ter wêreld en is in Suid-Afrika geregistreer.

Mangobome het twee blaarstuwings per jaar en dit werk uitstekend as die middel op die nuwe groei gespuit word. Entmateriaal word van sulke bome, wat heeltemal vry van bloeiselmisvorming is, gesny. Hy het twee blokke bome wat elke twee maande met die middel bespuit word, wat sy bron van enthout is.

In die kwekery word pitte van die kultivar Sabre geplant, wat geskikte onderstamme is. As die Sabre-boompie mooi sterk is, word die kultivar wat benodig word daarop geënt. As die geënte boompies sterk groei, word dit in November uitgeplant en met ’n drupstelsel besproei. Vir die eerste twee jaar word die boompies bemes en besproei om optimaal te groei sodat dit teen die derde jaar die eerste oes lewer.

Geskikte bemestingsprogram

As die bome in produksie is, word grond en blaarontledings gebruik om ’n bemestingsprogram uit te werk. Verlede jaar was die gemiddelde opbrengs van al die boorde 28 ton/ha, maar in die Keitt-boorde was die opbrengs op plekke tot 40 ton/ha.

Omdat die vereistes van die winkelgroep waaraan hy mango’s lewer net so streng of selfs strenger is as vir uitvoer, word ’n voorkomende siekte- en plaagbestrydingsprogram gevolg vanaf vroeg in die blomtyd tot voor pluktyd, met ’n voldoende onthoudingstyd soos wat vir die middels aanbeveel word. Soos wat die seisoen vorder, word die program aangepas om die siektes en plae wat dan van belang is, te beheer.

Afgesien van die groenskil-mango’s wat mark toe gestuur word, word al die ander mango’s wat aan die gehaltevereistes voldoen aan die kettingwinkelgroep gelewer. Die mango’s word verpak en na die winkel se verpakkingsaanleg in Midrand gestuur, waar dit rypgemaak en herverpak word.

Maksimum uitpakpersentasie

Omdat die winkels die mango’s per gewig verkoop, moet die vrugte eenvormig en van ’n ideale grootte wees, en die kleur is ook uiters belangrik. Om die maksimum uitpakpersentasie te kry wat aan dié streng vereistes voldoen, is dit noodsaaklik dat ’n presiese bemesting- en plaagbestrydingsprogram gebruik word.

Dit gaan ook nie net oor die uiterlike voorkoms van die vrugte nie. Die interne gehalte van die vrug is net so noodsaaklik en gebreke soos jelliesaad en varkhart is heeltemal onaanvaarbaar.

Die plaas is ook GlobalG.A.P.-geakkrediteer, wat meebring dat alle bedrywighede soos spuit- en bemestingsprogramme, onthoudingstydperke, arbeidsbestuur, die menswaardige behandeling van mense en etiese omgang met die natuur en hulpbronne jaarliks geïnspekteer word. Dit is ’n voorvereiste om die mark te behou, so daarom kyk hulle na hul praktyke en mense.

Uitdagende toekoms

Theuns sê die mangobedryf het weliswaar gekrimp. Boere het hul mangobome uitgehaal en sitrus-, avokado- of makadamiabome geplant, hoofsaaklik omdat die uitvoermark vir mango’s in duie gestort het en dit al moeiliker geraak het om dié vrugte winsgewend te verbou.

“Die uitdaging vir die toekoms is om die ideale mango-kultivar te kry. Ons versamel saad van mangobome wat in landelike gebiede staan en beproef dit ten opsigte van alle ekonomies belangrike eienskappe. Ek het nou al sowat 60 verskillende kultivars wat ons so evalueer, en daar is beslis ’n paar wat belofte inhou en verder beproef moet word,” sê Theuns. – Andries Gouws, AgriOrbit

Vir meer inligting, kontak Theuns Botha by 083 265 8838 of tblapland@mweb.co.za.

Klik hier vir nog landbounuus.

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY

3 × four =