Skuif gerus voor die kassie in met jou koppie boeretroos en maak reg vir jou daaglikse dosis van Grootplaas! Dié gewilde landbou-aktualiteitsprogram trek op 3 April sy grootmensskoene aan na net meer as ‘n jaar op die lug.

Grootplaas het in Maart 2016 afgeskop met drie programme per week, nadat dit aanvanklik in voorafgaande maande as ‘n vier-minuut insetsel op Die Groot Ontbyt gespeel het. Met die aanvanklike drie-dag skedulering op Dinsdae, Donderdae en Vrydae, was dit altyd ‘n opsie om uiteindelik na ‘n vyfdag-week te beweeg, maar kykNET en die vervaardigers wou eers seker maak dat Grootplaas behoorlik wortel skiet en sy kykersgehoor vind.

Terugflits na die eerste Grootplaas-uitsending:

Die program het oor ‘n tydperk van twaalf maande gegroei in gewildheid, nie net onder kykers nie, maar ook onder adverteerders. Die nuwe programskedule beteken dat die program nou elke weeksoggend van 05:30 tot 05:50 uitgesaai sal word.

Die inhoud is aktueel en tegnies van aard en fokus grotendeels op die ernstige boer, hoewel die inhoud op só ‘n wyse aangebied word, dat Jan Alleman daarby aanklank kan vind en baie leer oor die wonderlike wêreld van boerdery. Daaglikse nuusbulletins en weerberigte, twee-weeklikse markverslae, ’n landboukalender en gefokusde inhoud, sorg dat hierdie program ’n moet is op die landbouer se daaglikse spyskaart. Wild en vee, vrugte en wyn, graan en groente, perde en honde, finansies en markte, en natuurlik die omgewing. Noem dit – ons praat daaroor.

Skakel weeksdae om 05:30 op kykNET, DSTV-kanaal 144 in wanneer Elsa Esterhuizen met kenners in verskeie landbouvertakkings gesels. Moet dit nie misloop nie.

Vir enige navrae rakende program-inhoud of advertensiegeleenthede, kontak Lynette Louw by lynette@veeplaas.co.za of skakel 084 580 5120. Klik hier om vorige programme te sien.

 

Grootplaas-hoogtepunte in 2016

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY