Besoekers stap deur die Afrikaner Wêreldekspo by die Jacaranda-landbouskou.

Die Afrikaner Simposium en Wêreldekspo was van die hoogtepunte by die pas afgelope Jacaranda-landbouskou. Die Afrikanerbees, ’n merkwaardige inheemse beesras, en sy potensiaal was die fokus van die Afrikaner Simposium, wat op 25 Augustus by die Pretoria-skougronde plaasgevind het.

Die simposium, wat deur die Afrikaner-beestelersgenootskap van Suid-Afrika en die Landbounavorsingsraad (LNR) aangebied is, het gefokus op die volhoubare produksie van rooivleis in warm klimaatstreke. Die Afrikanerbees, wat sy oorsprong in die Midde-Ooste en Egipte het, is volgens herhaalde navorsing en proewe perfek aangepas vir Suid-Afrika se warmer klimaat.

Verskeie plaaslike sprekers van die LNR en ander instansies, asook internasionale sprekers, het hul navorsing voorgelê. Prof Michiel Scholtz van die LNR se Diereproduksie-eenheid het gefokus op teling en produksiestrategieë wat tot klimaat-slim rooivleisproduksie bydra. “Lewendehawe dra by tot sowat 21% van die wêreld se metaanuitlaatgasse. Dit is dus belangrik om diere te teel wat meer groei toon met minder voer om die koolstofvoetspoor van die rooivleisbedryf te verlig,” het hy beklemtoon.

Een van die internasionale sprekers wat hul kennis gedeel het, was dr Mike MacNeil, ’n internasionaal erkende deskundige op die gebied van teling en genetika. Hy het inligting oor rooivleisproduksie in die droë gebiede van Montana in die Verenigde State van Amerika (VSA) gedeel. Dr MacNeil het voorgestel dat vir meer doeltreffende koeie met korter produksietye geteel moet word. Hy het egter genoem dat nog baie navorsing gedoen moet word in genetika wat op volhoubare produksie fokus.

Die simposium is deur sowat 150 afgevaardigdes bygewoon, wat rooivleisprodusente, Afrikanerbees-telers en landboustudente ingesluit het.

 Nasionale raskampioenskappe

Nog hoogtepunte op die skouprogram was die nasionale raskampioenskappe, asook die Afrikaner-beestelersgenootskap van Suid-Afrika se nasionale veiling.

‘n Bul van Nico en Fanus van der Walt se Esfané-stoet is as die ras kampioen-bul van die Afrikaners, en reserwe senior inter-raskampioen-bul aangewys tydens die Jakaranda skou. Die hanteerder is Meshak Matekani.        
‘n Bul van Nico en Fanus van der Walt se Esfané-stoet is as die ras kampioen-bul van die Afrikaners, en reserwe senior inter-raskampioen-bul aangewys tydens die Jakaranda skou. Die hanteerder is Meshak Matekani.

 

 

 

 

 

 

n Bul van Pieter de Kock se Pronk Afrikanerstoet in lot 20 is aan Pierre-André Cronjé van Grootkuil Afrikaners vir die hoogste prys van R110 000 verkoop.
n Bul van Pieter de Kock se Pronk Afrikanerstoet in lot 20 is aan Pierre-André Cronjé van Grootkuil Afrikaners vir die hoogste prys van R110 000 verkoop.

 

 

 

 

 

 

Sien die volledige veilingsuitslae hier.

Eindig met styl

Die Afrikanerbees-fees is afgesluit met ’n spogdinee waartydens die Afrikanerbees en sy mense gevier is. Die aand is begin met ’n plesierrit vir gaste op ’n regte ossewa wat deur ’n span sterk Afrikanerosse getrek is. Pragtige skilderye van Afrikanerbeeste, geskilder deur Deirdre van Straaten, is deur Allan Sinclair van Vleissentraal ten bate van verskeie liefdadigheidsorganisasies opgeveil. – Ursula Human, Veeplaas


NO COMMENTS

LEAVE A REPLY